On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Ingryping in Vrystaat teen #GBV geëis ná drie moorde in een week

───   HEIDRÈ MALGAS 10:54 Tue, 16 Jul 2024

Ingryping in Vrystaat teen #GBV geëis ná drie moorde in een week | News Article
Vrystaatse organisasies, kerke en staatsamptenare staan saam teen GBV. Foto: Kekeletso Mosebetsi

Die man van Bothaville wat na bewering sy vrou vermoor sy vrou vermoor het en hulp gesoek by die polisie op Woensdag 3 Julie. Hy het beweer sy vrou het in ’n poel bloed gelê, en ondersoeke het tot sy inhegtenisneming gelei.

Die afgelope twee maande gaan die Vrystaat gebuk onder ’n toename in geslagsgeweld. Die DA is bekommerd oor die toenemende getal vroue wat deur hul lewensmaats vermoor word.

OFM Nuus het voorheen berig oor ’n paar gevalle, soos die man van Bothaville wat na bewering sy vrou vermoor het en hulp by die polisie gaan soek het op Woensdag 3 Julie. Hy het beweer sy vrou het in ’n poel bloed gelê, en ondersoeke het tot sy beweerde inhegtenisneming gelei. 

Stephen Songezo was onlangs in die nuus weens die moord op sy vriendin, ’n onderwyseres aan die Hoërskool Tsoseletso, Mpho Moalosi, en het na bewering haar liggaam op Maandag 17 Junie op die Dewetsdorp-pad gelos. Songezo is vir haar moord aangekeer. Hy is glo ook betrokke by 14 ander gevalle van geslagsgeweld.

Nog ’n Vrystater, Simphiwe Macdonald Masithela, het op Dinsdag 2 Julie in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn vir die moord op sy vriendin.

Mans en vroue van dwarsoor Mangaung het Woensdag 3 Julie na die Bloemfonteinse landdroshof opgeruk om te betoog teen die toename in geslagsgeweld in die provinsie. Die optog, gelei deur die Vrystaatse premier, MaQueen Letshoha Mathae, Mangaung-speaker Lawrence Mathae, kerkleiers, lede van die voormalige premier se stigting en verskeie organisasies het gevra vir geregtigheid vir alle vroue wat slagoffers van sulke geweld geword het.

“Die moord op vroue in ons provinsie is ’n krisis wat onmiddellike en beslissende optrede vereis,” het Mathae gesê. “Ons moet almal saamwerk om ’n veilige omgewing vir ons vroue en kinders te skep.”

Ten spyte van talle betogings, openbare oproepe, en regeringspogings bly die euwel van geslagsgeweld ’n probleem in die Vrystaat.

“Die DA in die Vrystaat is diep besorg oor die ongebreidelde geslagsgeweld in die provinsie. Die tragiese moorde op drie vroue in die omgewing van Botshabelo en Bloemfontein binne ’n enkele week beklemtoon die dringende behoefte aan ’n omvattende strategie om die lewens en waardigheid van vroue, kinders, en bejaardes in ons gemeenskappe te beskerm,” sê Werner Pretorius, Vrystaatse DA-wetgewerlid.

‘Daar is ’n kritieke tekort aan beddens in veilige plekke’

Pretorius sê die DA het die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling uitgevra oor die beskikbaarheid van skuilings vir geslagsgeweldslagoffers in die Vrystaat. In ’n vorige verslag van die Kommissie vir Geslagsgelykheid is gewys op ’n kritieke tekort aan beddens in veilige plekke. Die departement is versoek om werklike behoeftes teenoor huidige kapasiteit te evalueer. Voldoende skuilings is noodsaaklik om onmiddellike beskerming en ondersteuning aan slagoffers te bied.

“Die DA doen ook ’n beroep op die provinsiale regering om werk te maak van die onderliggende oorsake en sosiaal-ekonomiese faktore wat tot geslagsgeweld in ons provinsie bydra. Ons bepleit proaktiewe maatreëls om geslagsgeweld te voorkom en slagofferprojekte te ondersteun.

“Ons ondersteun die gemeenskap se eis dat wetstoepassing vinnig oortreders voor die gereg bring. Voorts pleit ons vir verbeterde misbruikonderrig in ons skole en dwarsoor die privaat sowel as openbare sektor,” sê Pretorius.

Die DA verbind hom daartoe om provinsiale misdaadstatistieke streng te monitor om die prestasie en doeltreffendheid van relevante departemente in die bestryding van geslagsgeweld te beoordeel.

Hy doen ’n beroep op die premier en haar administrasie om ’n jaar lange strategie met ’n geenverdraagsaamheid-benadering tot dié soort misdaad te implementeer en so deurlopende pogings te verseker om vroue, kinders, bejaardes en ander kwesbare groepe in die samelewing te beskerm.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.