Central SA
Nuwe lewe vir Sonja Herholdt se 45 jaar oue ‘Harlekyn’─── HEIDRÈ MALGAS 10:18 Tue, 30 Apr 2024
![Nuwe lewe vir Sonja Herholdt se 45 jaar oue ‘Harlekyn’ Nuwe lewe vir Sonja Herholdt se 45 jaar oue ‘Harlekyn’ | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/11569f99-7a16-4441-a80f-cc0bc0631fca.jpg?crop=0,28,532,327)
“‘Harlekyn’ is een van daardie liedjies met ’n sterk melodie, lirieke en ’n verhaal wat dit tydloos maak.”
“As ’n mens dink aan die musiek uit die sewentigs en tagtigs – met ikone soos Abba, Elton John en die Bee Gees – dan besef jy dat al daardie musiek dié elemente bevat het.” Vandag is daar ’n hunkering na die nostalgiese ou musiek, iets wat ’n mens kan hoor in die radioversoeke vir liedjies uit daardie era.
“Ek sou sê die nuwe remix van ‘Harlekyn’ beskik oor al daardie elemente, wat dit relevant maak vir vandag se gehoor,” gesels Sonja Herholdt.
Anton Goosen se komposisie, met Herholdt se stem soos sy dit 45 jaar gelede opgeneem het, is nou op alle digitale platforms beskikbaar in ’n nuwe gedaante deur DJ SENSASIE. Herholdt was nie betrokke by die proses nie, maar Universal Musiek het saam met Chris SENSASIE gewerk aan die nuwe weergawe.
“Harlekyn” is een van daardie liedjies met ’n sterk melodie. Foto: YouTube
“Ek was bevoorreg om hom te ontmoet tydens ’n televisie-opname waar ons saamgewerk het, en ek is baie beïndruk met hom,” vertel Herholdt. “Hy het dit jare lank gedoen en is ’n absoluut fantastiese musikant met ’n fyn gehoor, en hy weet net hoe om hierdie remixes perfek te laat klink, terwyl hy die nostalgie behou.”
Sy sê wat die remix vir haar uitbeeld, is hoe kragtig nostalgie is; mense wat daarna luister, word dikwels tranerig en verlang terug na ’n tyd wat vir hulle kosbaar was. “Ek dink die nostalgie van die remix het ’n mag, en dit is ’n positiewe mag wat mense laat goed voel, en dit is vir my belangrik.”
Sy noem dat Chris SENSASIE dit baie slim aangepak het. Hy het die nostalgie behou en dit terselfdertyd nuut genoeg gemaak sodat nuwe luisteraars, wat die liedjie glad nie ken nie, kan dink dit is ’n splinternuwe liedjie. Hy het daardie elemente meesterlik vasgevang.
Die musiekbedryf het die afgelope vier en ’n half dekades ingrypend verander.
Herholdt sê die nostalgie van die remix het ’n mag, en dit is ’n positiewe mag. Foto: Facebook/Sonja Herholdt
“Vandag is dit totaal anders. Dit is onherkenbaar veranderd in vergelyking met hoe die bedryf was in my tyd. Ek bedoel dit in ’n positiewe sin, want daar is nou meer geleenthede. Dit is ’n groter mark, dit is dinamieser, daar is meer genres waarin kunstenaars hulself kan uitdruk en uitleef.”
Sy sê mense en kunstenaars het gegroei sedert haar tyd. In haar tyd was toegang tot die bedryf deur ’n platemaatskappy wat jou moes goedkeur en opteken. Vandag kan enige iemand op enige plek ’n opname maak, want die digitale era maak dit moontlik. In haar tyd was opnames en ateljees die enigste opsies.
Die nuwe "Harlekyn" het die nostalgie behou en dit terselfdertyd nuut genoeg gemaak. Foto: Facebook/Sonja Herholdt
Deesdae sluit ’n tipiese dag in Sonja se lewe drie dae van ’n uur se aanlyn Pilates in, omdat sy besef het hoe belangrik gesondheid is. Sy swem ook, en dan spandeer sy die res van die dag aan administrasie en alles wat in en om die huis gedoen moet word, soos inkopies doen en kos maak. Sy sê sy het ’n doodgewone dag, soos die meeste mense.