Central SA
Moordverdagte van Kimberley ‘te swak’, kry borgtog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:04 Mon, 10 Feb 2025
![Moordverdagte van Kimberley ‘te swak’, kry borgtog Moordverdagte van Kimberley ‘te swak’, kry borgtog | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/8c0890ff-b14b-44f5-83e6-945a62dd000c.png?crop=0,0,614,345)
’n Kimberleyse moordverdagte, wat op borgtog vrygelaat is omdat hy na bewering te swak is om aangehou te word, moet weer volgende Dinsdag (18/2) in die hof verskyn.
Clive Ferris (67) is Vrydag R10 000 borgtog toegestaan ná ’n appèl in die plaaslike hooggeregshof, ondanks verskeie aanklagte saam met sy dogter, adv. Celeste Nameka, sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder.
Hy moet een keer per maand by die polisiekantoor aanmeld en mag nie met staatsgetuies inmeng nie.“Die pa en dogter staan tereg op afsonderlike en/of gesamentlike aanklagte van moord, poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en die afvuur van ’n vuurwapen in ’n stedelike gebied,” sê Senokoatsane.
Nameka is reeds op 17 Januarie op borgtog van R5 500 vrygelaat.
Ma beswyk aan beserings
Die opspraakwekkende skietvoorval het vroegoggend 21 Desember plaasgevind in ’n woonkompleks in die woonbuurt Minerva Gardens, waar Nameka saam met haar kêrel, Lucan Anthony, gewoon het.
Die staat voer aan dat sy Ferris gebel het ná ’n rusie met Anthony. “Ferris het toe glo met ’n vuurwapen daar aangekom, mense gedreig, aangerand en ook op hulle geskiet,” sê Senokoatsane.
Tydens die voorval is Charmaine Anthony (67) geskiet, terwyl haar seun, Anthony, in die been en sitvlak geskiet is. Charmaine het later in die hospitaal aan haar beserings beswyk.
Clive Ferris en sy dogter, adv. Celeste Nameka in die hof. Foto: SABC
Ferris, ’n voormalige skoolhoof van die Primêre Skool Homevale, is enkele dae later in die landdroshof aangekla, en Nameka is vroeg in Januarie as medebeskuldigde bygevoeg.
Volgens Senokoatsane het die hof Dinsdag (4/2) meermale gehoor Ferris is ’n “verswakte 67-jarige”, wat op borg vrygelaat moet word. “Omdat dit ’n Bylae 6-oortreding ingevolge die Strafproseswet is, moet die beskuldigde dwingende en buitengewone omstandighede bewys wat vrylating op borgtog regverdig.”
‘Verswakte verdagte het glo ander gejaag’
Die staat het in hul voorlegging aangevoer die sogenaamde “verswakte verdagte” het na bewering verskeie kere met ’n vuurwapen geskiet, hulle daarmee om hul motors gejaag het en self een slagoffer met gebalde vuiste genader.
Volgens Senokoatsane word Nameka ook daarvan aangekla dat sy die oorledene se familielede by ’n ander geleentheid gedreig het.