Central SA
Saak van dieremishandeling teen pastoor, vrou van Odendaalsrus uitgestel─── ZENANDE MPAME 10:23 Tue, 11 Feb 2025
![Saak van dieremishandeling teen pastoor, vrou van Odendaalsrus uitgestel Saak van dieremishandeling teen pastoor, vrou van Odendaalsrus uitgestel | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/d39db32c-758b-438d-aa8b-47e422d8eda2.jpg?crop=0,26,526,322)
’n Pastoor en sy vrou van Odendaalsrus verskyn na verwagting Woensdag 26 Februarie in die plaaslike landdroshof vir ’n borgtogaansoek op aanklagte van dieremishandeling en aanranding ná ’n wrede aanval op ’n bulterriër.
Past. Andries en Reinette Labuschagné is in polisieaanhouding ná hul hofverskyning Vrydag (7/2). Hulle is in hegtenis geneem nadat hy na bewering vir Leo herhaaldelik met messe gesteek en sy eienaar, Tanya Sanders, aangerand het.
Die egpaar is op 3 September in hegtenis geneem. “Die verhore op aanklagte van dieremishandeling en aanranding is uitgestel vir ’n borgtogaansoek,” sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder. “Die egpaar bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning in die Odendaalsrus-landdroshof.”
In Oktober verlede jaar het die polisie bevestig dat die pastoor ook tereg staan op aanklag van die beweerde verkragting van ’n minderjarige in Julie “en dat sy vrou aangekla word van versuim om die seksuele misbruik van ’n minderjarige aan te meld”, het Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, gesê.
Na bewering was die pastoor opsigter van woonstelle op ’n sakeperseel op die Goudveldse dorp waar Leo se eienaar gewoon het. Die bulterriër sou net een dag daar oorgebly het voordat hy die volgende dag na ’n plaas geneem sou word.
Die verdagte het egter daarop aangedring dat die hond dadelik verskuif word na een van die leegstaande eenhede en nie in die woonstelle kon oornag nie. Sanders het ooreengekom en gesê sodra iemand sterk genoeg is om die hond te hanteer, sal hy geskuif word, het Earle destyds gesê.
Leo op sy eerste verjaardag besig om '’ sny sjokaladekoek te geniet. Foto: Facebook
Hy het na bewering geweier en begin om die hond met ’n tou uit die erf te sleep. “Hy het probeer om Leo met ’n tou te verwurg, en toe dit nie werk nie, het hy vir Reinette gevra om ’n mes te bring sodat hy Leo kon steek,” het Sanders beweer.
“Leo se eienaar het bo-op hom gaan lê om hom te beskerm en gesmeek dat sy lewe gespaar word. Reinette het teruggekom met die mes en Andries het Leo (na bewering) herhaaldelik daarmee gesteek – in sy lyf, kop en bek,” het Thea Smit, DBV-voorsitter van Virginia, gesê.
Past. Andries Labuschagné en sy vrou, Reinette. Foto: Facebook
“Een mes was nie genoeg nie – Andries het vir Reinette gevra om nog een te bring.”
Mike Bolhuis, privaat speurder, sê hierdie tragiese voorval is nie ’n geïsoleerde geval nie, maar dat baie soortgelyke voorvalle nie aangemeld word nie. “Ons wil hê die mense van Suid-Afrika moet weet dat ons diep omgee vir diere.”