Central SA
Liewan Claassens: ’n 9-jarige met vele talente─── 13:58 Thu, 04 Apr 2024
Liewan se resep om te wen is sy geloof in Jesus: Gee jou beste en God sal vir die res sorg!
’n Leerder van Laerskool Grey Kollege het onlangs aan die Con Spirito Eisteddfod-kompetisie in die kategorie: Afrikaans voorbereide leesgedigte deelgeneem en die gedig “ ’n Muis in die huis" geskryf deur Franci Greyling opgevoer.
Liewan Claassens het ’n A+++ (98%) behaal en is as die item-wenner in die kategorie aangewys. Hy het deurgedring na die nasionale eindrondte wat later vanjaar in Augustus sal plaasvind.
“Hy volg in sy suster, Lika, se voetspore. Sy is lief vir kultuur en om op te tree. Liewan wou graag ’n kans waag en het toe, tot sy verbasing, die eersteprys behaal,” vertel sy ma, Nadia Claassens.
Liewan Claassens wou graag ’n kans waag en het toe die eersteprys behaal. Foto verskaf
Liewan het ook aan die nasionale ATKV-DigiSpel-kompetisie deelgeneem en ’n punt van 92,5% in die streekfinaal behaal.
Hy is ’n seun van vele talente en het ook onlangs ’n goue medalje in die Vrystaatse Super8-tennistoernooi (rainbow kidz) behaal.
Hoewel Liewan net nege jaar oud is, beklee hy ook die no.1-posisie in die o/10-afdeling in Mangaung (Suid-Vrystaat), sowel as die Vrystaatse Tennisleër.
Liewan is ook die no.1 o/11-tennisspeler van Grey College Primêre Skool en onder die top 8 tennisspelers van die hele laerskool.
Volgens sy ma werk Liewan baie hard en kom al die prestasies met baie jare se oefening, aangesien hy sedert die ouderdom van vyf aan sport deelneem.
Liewan se pa is ook ’n kranige tennisspeler “en het hy basies langs die tennisbaan grootgeword,” het Nadia gesê. Een van Liewan se grootste rolmodelle is Rafael Nadel en sy grootste droom is om eendag by die Wimbledon-kampioenskappe te speel.
Om dit als te kroon, is hy ’n kunstenaar wat dit geniet om te teken en een van sy kunswerke is reeds in die Santam Children's Art Calender te sien.
OPDATERING: Liewan is nege jaar oud en ook die no.1 o/11-tennisspeler van Grey College Primêre Skool en onder die top 8 tennisspelers van die hele laerskool.