On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Stakers van Matjhabeng-munisipaliteit moet binne 10 dae begin werk

───   KEKELETSO MOSEBETSI 10:20 Thu, 28 Mar 2024

Stakers van Matjhabeng-munisipaliteit moet binne 10 dae begin werk  | News Article
Thanduxolo Khalipha, burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit. Foto: Facebook

“Die ingryping het misluk daarom tree ons nou op om die hofbevel in werking te stel.”

Die Matjhabeng-munisipaliteit dreig om Samwu-lede af te dank as hulle nie binne tien dae begin werk nie. Die vakbond se lede staak al agt weke lank omdat hulle ontevrede is oor Thanduxolo Khalipha, die burgemeester. 

Hulle beskuldig hom daarvan dat hy inmeng in die administrasie en munisipale hulpbronne misbruik. Ten spyte van ingrypings deur die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het die spanning toegeneem.

Khalipha het op ’n mediakonferensie in Welkom gesê die munisipaliteit was die afgelope agt weke geduldig en beklemtoon dat hulle probeer om die departement se opdragte uit te voer. 

“Werkers sal hulle nie laat intimideer nie’ 

Samwu beskuldig hom van intimidasietaktiek. Die staking moet beskerm word, sê Tiisetso Mahlatsi, provinsiale sekretaris-generaal. Hy sê niks sal verander nie ondanks die munisipaliteit se pogings om die staking onwettig te laat verklaar. “Hierdie bestuur het met die plaaslike arbeidsforum ooreengekom oor wat moes gebeur het en het ’n ander verslag op die raadsvergadering voorgelê. Werkers sal hulle nie laat intimideer nie.” 

Hy sê Samwu is bereid om vyf van hulle 19 eise te laat vaar sodat die staking opgehef kan word. Die jongste raadsbesluit was daarop gemik om aandag te gee aan die werkers se griewe deur in te stem om salarisse vir Februarie te betaal, hoewel met aftrekkings vir die dae wat hulle afwesig was van die werk. Hierdie toegewing kon nie die gemoedere laat bedaar nie.

Khalipha sê die munisipale bestuur het hulle daarvan weerhou om ’n hofinterdik te kry en onderhandelinge met Samwu-leierskap was onsuksesvol. 

Die keerpunt was die onlangse brand van munisipale geboue in Welkom en Virginia deur ontevrede werkers wat hul volle salaris eis. Inwoners trek aan die kortste ent terwyl noodsaaklike dienste ontwrig word.

Khalipha sê die munisipaliteit moes private maatskappye gebruik om uitdagings van dienslewerings die hoof te bied. In die ultimatum aan stakers word die erns van die situasie beklemtoon. Hulle weet hulle kan hul werk verloor. 

“Die ingryping het misluk daarom tree ons nou op om die hofbevel in werking te stel. Ek is seker teen volgende week sal die munisipale bestuurder ’n aantal van hulle afdank,” sê die burgemeester.

Khalipha sê hulle wil ook vergader met Bheki Cele, minister van Polisie, en ook pres. Cyril Ramaphosa versoek om sy span na Matjhabeng te ontplooi om stabiliteit en vrede te verseker. “Ons sal nie wetteloosheid in hierdie munisipaliteit duld nie. Dis ons plig om stabiliteit en vrede te handhaaf.” Khalipha het inwoners belowe dat dienstlewering binnekort hervat sal word.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.