On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Gesondheidsdepartemente in Sentraal-Suid-Afrika moet miljarde teruggee

───   KEKELETSO MOSEBETSI 15:41 Mon, 11 Mar 2024

Gesondheidsdepartemente in Sentraal-Suid-Afrika moet miljarde teruggee | News Article
Foto: OFM Nuus

“Die onderbesteding op die toelae van R85 miljoen was weens die proses van rekonsiliasie vir betaling aan die einde van die jaar en kon nie gefinaliseer word nie.”

Die Vrystaatse Gesondheidsdepartement se onvermoë om R85 miljoen vir die 2022/23-boekjaar te bestee, ontlok hewige kritiek en laat die soeklig val op kwessies van finansiële beplanning en uitvoering.

Talle mense is geskok dat provinsiale gesondheidsdepartemente ’n yslike R3 miljard vir die 2022/2023-boekjaar onderbestee het, sê Lerato Mthunzi, hoofsekretaris van die gesondheidsvakbond Indaba. Gauteng het die swakste gevaar nadat hy R2,7 miljard onderbestee het.

Ander provinsies se onderbesteding:

  • Noordwes R200,6 miljoen
  • Wes-Kaap R180 miljoen
  • Noord-Kaap R141 miljoen
  • Limpopo R103 miljoen
  • Vrystaat R85 miljoen
  • Oos-Kaap R62,2 miljoen
  • Mpumalanga R25,3 miljoen

Onderbesteding beteken hospitale kan nie noodsaaklike toerusting aanskaf nie. Foto: Pexels

Die onderbesteding op die toelae van R85 miljoen was weens die proses van rekonsiliasie vir betaling aan die einde van die jaar en kon nie gefinaliseer word nie, sê Mondli Mvambi, Vrystaatse gesondheidswoordvoerder, by navraag.

Die oordragbedrag van R84 miljoen op gesondheidsherlewingstoelae is aangevra en goedgekeur om in 2023/24 bestee te word.

Mthunzi sê die Noordwes-gesondheidsdepartement beweer sy onderbesteding is te wyte aan “vertragings in die indiening van fakture deur diensverskaffers en laat aflewering van mediese toerusting”. Gauteng s’n verkwalik die laat ontvangs van fakture, ’n kleiner getal verpleegstudente wat vir die akademiese jaar ingeskryf is en vertragings in die indiening van instansies sonder winsoogmerk se eise. 

‘Verskaffers word nie betyds betaal’

“Ons sluk swaar aan hul redes omdat dit ons ervaring is dat baie verskaffers nie betyds deur die departement betaal word nie. Die versuim van die departement om verskaffers te betaal, lei tot tekorte aan noodsaaklike items wat deur gesondheidsinstellings benodig word.

“Dit is net ’n paar van die patetiese, onoortuigende verskonings wat aangevoer word, om die minste te sê. Die verskonings dui op ’n onbesorgde gesondheidsektor wat geen ag slaan op die lyding van pasiënte, en ook werkers nie. Ons lede is daagliks aan die ontvangkant van die gemeenskap se woede, want die provinsiale departemente van gesondheid is onbevoeg,” sê Mthunzi.

Hy kap die provinsiale gesondheidsdepartemente omdat hulle nie die geld gebruik om gehaltedienste in die openbare gesondheidsektor te lewer deur duisende werklose dokters en verpleegsters in diens te neem nie. “Ons hospitale stort in duie weens die massiewe begrotingsbesnoeiings wat besteding aan infrastruktuur beïnvloed het.

“Daar is hoësorgsale met lekkende plafonne; hysbakke is onklaar in talle hospitale, wat die vervoer van pasiënte uit verskillende sale baie moeilik maak. Daar is ’n gebrek aan ordentlike sekuriteit in ons fasiliteite omdat ons meegedeel word dat daar nie geld is nie, net om uit te vind dat hierdie departemente versuim het om die geld te bestee wat aan hulle toegeken is.”

Mthunzi doen ’n beroep op LUR’e om verantwoording te doen. Hy eis grootskaalse afdankings weens die versuim om geld te gebruik om byvoorbeeld lugreëlingstelsels te verbeter.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg/dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.