On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Klasse in Upington om inheemse N|uu-taal te leer ‘groot sukses’

───   12:06 Thu, 16 Jan 2025

Klasse in Upington om inheemse N|uu-taal te leer ‘groot sukses’ | News Article
Dr. Katrina Esau. Foto: Facebook

In Mei 2024 is ’n unieke taalklas in Upington begin om die jongklomp van die omgewing die pragtige, tradisionele San-taal bekend as N|uu te leer praat.

Die oorspronklike taal van Suider-Afrika het eeue gelede sy ontstaan gehad.

Met slegs een moedertaalspreker, dr. Katrina Esau (92), wat dit vlot kan praat, is die voortbestaan van N|uu in die weegskaal. Die taalklasse is ’n poging om die voortbestaan daarvan te verseker en om dit in al sy rykdom te laat herleef.

Kinders laat N|uu-taal herleef op verhoog

“Ná ’n suksesvolle jaar het 75 kinders bywoningsertifikate ontvang, saam met ’n geskenkie en T-hemp. Die kinders het ’n toneelstuk in N|uu opgevoer, gesing en ook gedans,” vertel Nathalie Cloete, plaaslike koördineerder van die Palms for Life-opheffingsfonds, ’n New Yorkse organisasie sonder winsoogmerk.

Nathalie Cloete van die Palm for Life-fonds, dr. Katrina Esau en Claudia Snyman. Foto: Facebook

“Die begin van hierdie klasse, asook die sukses van die afgelope jaar, word as ’n baie spesiale oomblik in die geskiedenis van die N|uu-taal geag. Die taal word nog deur inwoners van die !Khomani-gemeenskap in die Noord-Kaap gepraat.

Palms for Life maak die aanbieding van die klasse, wat vandeesweek in Upington hervat word, moontlik. 

“Die kinders kry die unieke geleentheid om direk by dr. Esau te leer. Sy het ruimhartig aangebied om kinders te onderrig.” 

‘Kinders sal geïnspireer word deur die sluwe manewales van die skilpad’

Dr. Esau word bygestaan deur haar kleindogter, Claudia Snyman, wat ook kennis van die taal het en liedjies in dié taal kan sing.

Dr. Esau het in 2021 'n kinderboek in haar N|uu-moedertaal gepubliseer, getiteld ‘!Qhoi n|a Tjhoi’ (Skilpad en Volstruis). ”Kinders sal geïnspireer word deur die sluwe manewales van die skilpad en die humoristiese illustrasies deur bekende kunstenaar Stanley Grootboom,” beskryf New Africa Books die boek.

2025-klasse

N|uu-klasse hervat weer vanaf 16 Januarie 2025 en almal wat dit wil leer praat, word uitgenooi. Dit vind op Dinsdae, Donderdae en Saterdae plaas. Toegang is gratis.

Vir meer inligting, kontak gerus vir Nathalie Cloete, plaaslike koördineerder vir die Palms for Life-fonds by 082 431 7947 of Claudia Snyman by 064 966 3779.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.