On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse landdrosmoord: Saak teen verdagtes uitgestel

───   ZENANDE MPAME 08:51 Thu, 16 Jan 2025

Bloemfonteinse landdrosmoord: Saak teen verdagtes uitgestel | News Article
Saak teen verdagtes wat van voormalige Bloemfonteinse landdrosmoord beskuldig word, uitgestel. Foto: Facebook/SupaRugby

Die saak teen ’n man (52) en vrou (42) wat in verband met die beweerde moord op ’n voormalige landdros in hegtenis geneem is, is deur die Bloemfonteinse landdroshof tot Dinsdag (21/1) uitgestel.

Die twee verdagtes het Dinsdag (14/1) vlugtig in die hof verskyn nadat hulle van die moord op Piet Bester (63) aangekla en in hegtenis geneem is. Sy lyk is Sondag (12/1) by sy woning op Glen buite Bloemfontein gevind.

“Die verdagtes sal in hul volgende hofverskyning Dinsdag (21/1) in die Bloemfonteinse landdroshof om moontlike borgtog aansoek doen,” het Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder in die Vrystaat, gesê.

“Die polisie gaan voort om die moord op Piet Bester te ondersoek. Die ondersoekbeampte is beskikbaar vir verdere inligting en doen ’n beroep op die publiek vir enige bykomende besonderhede wat in hierdie saak kan help,” het Vrystaatse polisiewoordvoerder Lorraine Earle gesê.


Bester is deur ’n werker gevind waar hy met veelvuldige wonde in ’n plas bloed gelê het. “Bester is Sondag (12/1) met verskeie wonde aan sy liggaam gevind en twee verdagtes is later die dag in hegtenis geneem.” 

Die polisie het onthul dat dit gelyk het of Bester al meer as 12 uur dood was.

Verwoestende impak op landelike gemeenskappe

In ’n ander geval sal twee verdagtes binnekort in die Parys-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, huisroof, diefstal van ’n motorvoertuig en diefstal uit ’n motorvoertuig.

“Dié twee verdagtes het Vrydag (10/1) Themba Motha (58) en sy lewensmaat (61) by hul plaas oorrompel. Hulle is aangerand totdat Motha aan sy beserings beswyk het,” sê Josephine Rani, Vrystaatse polisiewoordvoerder.  

‘Die motor is later verlate in Tumahole gevind’

“Die twee het na bewering ’n Mahindra-bakkie en items ter waarde van R65 000 gesteel en van die toneel gevlug. Die motor is later verlate in Tumahole gevind.”

Die Vryheidsfront Plus voeg by dat hierdie aanvalle ’n direkte en verwoestende impak op landelike gemeenskappe het, en ’n onmeetlike tol op gesinne en gemeenskappe eis.

Boere het die reg om hulself en hul gesinne te beskerm. Foto: vrystaatlandbou.co.za

Die politieke party doen ’n beroep op alle boere en landelike gemeenskappe om bykomende veiligheidsmaatreëls te implementeer omdat aanvallers altyd hul metodes verbeter. Dit is belangriker as ooit om veiligheidsmaatreëls te prioritiseer, gereed te wees en wakker te wees.

“Geen voorsorgmaatreël is oorbodig nie. Boere het die reg om hulself en hul gesinne binne die beperkings van die wet te beskerm,” het die Vrystaatse VF Plus-leier, Jan van Niekerk, gesê.

“Die VF Plus wil boere aanmoedig om die lewens van hul gesinne en werkers te verdedig in ooreenstemming met hul grondwetlike regte.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.