On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Departement se blaps pla Vrystaatse toppresteerder allermins

───   11:30 Thu, 16 Jan 2025

Departement se blaps pla Vrystaatse toppresteerder allermins | News Article
Susan Bender van Bethlehem. Foto verskaf

Gedrewe. Optimisties. Dankbaar. Dit is hoe die Vrystaat se top matrikulant van 2024, met ’n gemiddelde slaagsyfer van 96%, antwoord as sy gevra word om haarself in drie woorde te beskryf.

Oor haar groot prestasie as die provinsie se top matrikulant is Susan Bender (18) van Bethlehem Voortrekker Hoërskool (BVHS) nederig. 

Die departement van onderwys se administratiewe blaps waaroor wyd in die media berig is, dat sy nie na die prysuitdelingfunksie genooi is nie, pla haar allermins. 

Sy het haar laaste jaar as onderhoofmeisie by Voortrekker geniet en het haar veelsydige belangstellings met oorgawe uitgeleef. Dit was nie net heeltyd akademie nie maar tussen-in ook hokkie, atletiek, kultuur en deelname aan die ATKV se redenaarskompetisies. Voortrekker bied vele uitlewings en geleenthede vir al sy leerlinge.

Die gesin Bender van Bethlehem. Van links is Susan, haar ouers, Arnold en Marina, en haar broer Koot, 'n leerling aan Grey-Kollege in Bloemfontein. 

Wat akademie betref, dink sy haar geheim was om hard te werk en in kompetisie met haarself te wees. Sy het haarself altyd tot beter en hoër resultate uitgedaag. 

Matriek was vir haar ‘n gelukkige jaar en sy het haar akademie, leierskapgeleenthede en  veral vriende en spanmaats baie geniet. Sy praat met lof van al haar hoërskoolonderwysers en vergeet ook nie die onderwysers aan die Truida Kestell Primêre Skool waar haar akademiese grondslag gelê is nie.  

“Ek is so dankbaar vir die ondersteuning deur die jare en hoe die Here en my ouers my gedra het.”


Anmar van Biljon, een van haar laerskoolonderwysers by Truida Kestell Primêre Skool (TKS), sê toe sy met hierdie lewendige dogtertjie wat in alles belangstel, kennis gemaak het, het sy besef Susan is ‘n uiters begaafde kind. Sy was altyd ‘n gebalanseerde leerling wat aan akademiese-, sport- en kultuuraktiwiteite deelgeneem het. 

Sy was ‘n rabbedoe, iemand met ‘n sterk persoonlikheid en goeie sin vir humor en het haar onderwysers op hul tone gehou. Ons het nie getwyfel dat sy vorentoe sou uitblink nie. Sy kom uit ‘n huis waar sy stimulasie en ondersteuning ontvang het. Sy wou op elfjarige ouderdom al ‘n dokter word.”

Susan se skoolhoof, Gys Coetzee, sê haar prestasie is absoluut fantasties. Die uitslae was dit wat sy die meeste van die tyd in haar vyf jaar by Voortrekker gekry het: “Ons is baie trots op haar.”

Susan Bender en Gys Coetzee, skoolhoof van Bethlehem Voortrekker Hoërskool. Susan was een van die top finaliste in die Universiteit van die Vrystaat se jaarlikse Matrikulant van die Jaar-kompetisie in 2024. Foto verskaf

Om ‘n dokter te word is inderdaad wat Susan gaan doen. Sy is ingeskryf vir mediese studies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) waar haar ouers, Arnold en Marina, ook studeer het. 

Haar loopbaankeuse was ‘n gebedsaak en sy sien dit as God se plan vir haar lewe. Sy is lief vir mense en voel geroepe om met mense te werk en vir hulle ‘n hulp te wees. Hoewel sy ook keuring by ander universiteite gekry het, was Kovsies haar finale keuse. 

Susan was in 2024 ook ‘n finalis in die UV se jaarlikse Matrikulant van die Jaar-kompetisie.

‘Dat daar vir hulle ‘n veilige ruimte sal wees om hul potensiaal uit te leef’

Haar boodskap en gebed vir leerlinge wat nog op skool is, is dat daar vir hulle ‘n veilige ruimte sal wees om hul potensiaal uit te leef. Sy hoop dat hulle hul geleenthede met oorgawe sal aangryp. Sy dink dit is goed om eerstens teen jouself te kompeteer en die beste in ’n vak of in die lewe te wees wat net jy kan wees.

Nie net wiskunde en die wetenskappe nie, maar ook tale is ‘n inspirasie in Susan se lewe. Sy luister graag na klassieke musiek maar hou ook van Spoegwolf en die Heuwels Fantasties se musiek en goeie lirieke. 

Deelname aan die ATKV se redenaarskompetisies oor jare het haar selfvertroue gegee. Haar naam Susan is ‘n Bybelse naam wat “lelie” beteken, sy hou van die kleur pienk in al sy skakerings en as dit by kunswaardering kom, is dit Impressionistiese kunswerke wat diep met haar praat.

‘Ek sien uit na die toekoms!’

Susan sê: “Dankie aan my gesin en ouers wat altyd daar was vir my. Dankie aan al my skoolvriende – die spangees wat ons kon deel en die skooljare by Truida Kestell en Voortrekker. 

“Ek was geseënd met wonderlike onderwysers en geleenthede. Daar is soveel mense wat my positief beïnvloed en as mens gehelp vorm het. Dankie aan die Here met wie ek ‘n verhouding kan hê en wat my pad vir my so mooi gemaak het. Ek sien uit na die toekoms!”

OFM Nuus/Susan Maré cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.