Central SA
Donkie-eienaars van Rouxville van dieremishandeling aangekla─── KEKELETSO MOSEBETSI 10:12 Mon, 29 Jan 2024
“Veelvuldige saalsere is opgemerk aangesien die harnasse wat gebruik is, tuisgemaak is en geweldige druk op die donkies se nek, bors en skedel veroorsaak het.”
Eienaars van donkies op Rouxville in die Suid-Vrystaat word aangekla ingevolge die Wet op Dierebeskerming.
Toe ’n span Donderdag (25/1) na die Rouxville-landdroshof op pad was vir ’n onverwante hofsaak oor ’n onwettige jagtog, wat in 2022 geopen is, het hulle op ’n donkiekar afgekom wat erg met gruis oorlaai was, sê Werner Botha, Bloemfonteinse DBV-inspekteur. Hulle het opgemerk dat die donkies in ’n swak toestand was en tipiese tekens van ongemak getoon het.
Botha sê die DBV-span het die wa gestop om die twee trekdiere te inspekteer, en tydens die inspeksie het hulle besef dat die twee donkies aan mishandeling onderwerp word.
“Die donkies het verskeie snywonde gehad nadat hulle deur die eienaar geslaan is. Veelvuldige saalsere is opgemerk aangesien die harnasse wat gebruik is, tuisgemaak is en geweldige druk op die donkies se nek, bors en skedel veroorsaak het.”
“Die span het verder opgemerk dat ’n septiese oop wond in die mond van een van die donkies aanwesig was aangesien die stang wat gebruik is verkeerd was,” het hy bygevoeg.
‘Vier ritte is tussen Bloemfontein en Rouxville onderneem om die saak voldoende te hanteer’
’n Saak van dieremishandeling is teen drie mans geopen en die donkies is gekonfiskeer. Botha het gesê vier ritte is tussen Bloemfontein en Rouxville onderneem om die saak van die donkies voldoende te hanteer.
Dit het onder meer ’n rit na Bloemfontein ingesluit om ’n sleepwa aan te skaf om hul donkiekar te konfiskeer en te verseker dat die eienaar nie die dieremishandeling voortsit nie.
Botha het die Rouxville-polisie bedank vir hul vinnige bystand en diegene wat finansieel bygestaan het tydens die reddingspogings.