On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Stilfontein-reddingsoperasie voltooi – 78 onwettige mynwerkers dood verklaar

───   15:26 Thu, 16 Jan 2025

Stilfontein-reddingsoperasie voltooi – 78 onwettige mynwerkers dood verklaar | News Article
Reddingswerkers vervoer ’n mynwerker op ’n draagbaar. Foto: AP/Themba Hadebe

Die reddingsoperasie wat Maandag (13/1) begin is om onwettige mynwerkers uit die Buffelsfontein-goudmyn buite Stilfontein na die oppervlak te bring, is teen Donderdag (16/1) voltooi.

Altesame 246 oorlewendes, sommige van hulle uitgeteer en gedisoriënteerd, asook 78 lyke is in dié tydperk uit die myn gehaal.

Die polisie het, nadat alle die vrywillige reddingswerkers na die oppervlak gekom het, ’n kamera laat afsak om te bevestig geen oorlewendes of lyke het agtergebly nie. Mannas Fourie, uitvoerende hoof van Mine Rescue Services, sê kameras en klankverklikkers kon geen lyke of oorlewendes vasvang nie.

Van die 246 oorlewendes is nege vir mediese behandeling onder polisiebewaking gehospitaliseer, het Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, aan die media gesê.

‘Ons sien ledemate, koppe’

Mathê sê daar is geen keer aan die regering se plan om onwettige mynwerkers met sogenaamde operasie Close the Hole te onderdruk nie.

Een van die vrywillige reddingswerkers wat die reddingsoperasie meegemaak het, het aan eNCA gesê hulle het ‘hope ledemate en koppe gesien wat los van lyke was’. 

Hy sê wat hy gesien het, sal vir altyd in sy gedagtes bly. Die polisie sal na verwagting psigososiale dienste aan die vrywillige werkers verskaf.  

Onwettige mynwerkers word deur polisiebeamptes begelei. Foto: AP/Themba Hadebe

Die polisie het Woensdagaand (15/1) bekend gemaak dat 128 van die onwettige mynwerkers afkomstig is van Mosambiek, 80 van Lesotho, 33 van Zimbabwe en vyf van Suid-Afrika.

Daar word vermoed dat die 78 mynwerkers wat dood is, weens hongersnood en ontwatering dood is, hoewel daar nog op die amptelike oorsake van hul dood gewag word.

Intussen word die regering geblameer vir die rampsituasie. “As die polisie vroeër opgetree het, sou ons nie in hierdie situasie gewees het nie, met liggame wat opgehoop het,” het Johannes Qankase, ’n plaaslike gemeenskapsleier, aan Associated Press gesê. 

Reddingswerkers ondersteun ’n uitgeteerde mynwerker. Foto: AP/Themba Hadebe

“Dit is ’n skande vir ’n grondwetlike demokrasie soos ons s’n. Iemand moet rekenskap gee van wat hier gebeur het.”

Hy het gesê hy is hartseer om “so baie lykswaens te sien kom om liggame van dooie mense te verwyder.”

Die DA het ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om ’n onafhanklike ondersoek in te stel om uit te vind “waarom toegelaat is dat die situasie so erg handuit ruk.”

‘Minstens 13 kinders kom uit myn’

Na wat verneem word, was daar in Augustus verlede jaar, toe die rampsituasie begin ontplooi het, tot soveel as 2 000 onwettige mynwerkers ondergronds by die Buffelsfonteinmyn werksaam.

Volgens Mathe het minstens 13 kinders ook uit die myn gekom voordat die amptelike reddingsoperasie begin het.

Die myn is een van die diepstes in Suid-Afrika en is ’n doolhof van tonnels met verskeie skagte wat daartoe lei. Die mynwerkers het in verskillende groepe tot 2,5 km ondergronds gewerk.

Foto: AP/Themba Hadebe

Die polisie het volgehou dat die mynwerkers deur verskeie skagte kon uitkom, maar het geweier uit vrees om in hegtenis geneem te word. Dit is betwis deur groepe wat die mynwerkers verteenwoordig, wat sê honderde was vasgekeer en uitgehonger met ontbindende liggame rondom hulle.  

Sedert Augustus 2024 is meer as 1 500 onwettige mynwerkers in hegtenis geneem. Altesame 121 is gedeporteer en dosyne is skuldig bevind aan onwettige mynbou, betreding en immigrasie-oortredings. 

Die polisie het ook beslag gelê op ’n voorraad goud, plofstof en vuurwapens.

OFM Nuus mvh/cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.