On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Central SA

Voormalige Springbok-haker se vermeende aanvallers in hof verwag

───   TSHEHLA KOTELI 10:44 Mon, 29 May 2023

Voormalige Springbok-haker se vermeende aanvallers in hof verwag | News Article
PHOTO: Facebook

Twee van die ses gewapende mans wat na bewering die voormalige Springbok-haker Lukas van Biljon (47) en sy pa, André van Biljon (70), op hul kleinhoewe aangeval het, sal Maandag in die Heilbron-landdroshof verskyn.

Volgens Vrystaatse Polisiewoordvoerder, Loraine Earle, word dié twee verdagtes van huisroof en poging tot moord aangekla. Die polisie is net ná middernag op 27 Mei 2023 na ’n kleinhoewe by Oranjeville ontbied, waar die Van Biljon-gesin tuis was. Daar word beweer dat die gesin deur ses gewapende mans aangeval is.

Toe Van Biljon (senior) die beweging van die oortreders gehoor het, het hy oor die radio probeer hulp roep van ander boere. Die aanvallers het egter daarvan bewus geword en verskeie skote afgevuur. Van Biljon het skietwonde aan die bors en hand opgedoen, terwyl die oud-Springbok-haker verskeie kere met ’n mes gesteek is. Die kinders wat in die huis was, is met kabelbinders vasgebind.

Earle verduidelik dat die oortreders met ’n voertuig gevlug het, wat in Strydomstraat in Oranjeville teruggevind is. “Toe hulle die blou ligte van die polisie sien, het hulle in ’n ander voertuig gevlug,” het sy bygevoeg. Alle omliggende paaie is volgens ’n aktiveringsplan deur die polisie en boere afgesper en by ’n padblokkade naby Viljoensdrift is die voertuig gestop. Twee verdagtes van 32 en 42 jaar oud is in hegtenis geneem. Daar is ook op die voertuig beslag gelê. Dit is op die oomblik onduidelik waar die ander vier verdagtes is en wat uit die Van Biljon-woning gesteel is.

LEES OOK: Oud-Springbok uit hospitaal ontslaan, pa kritiek ná plaasaanval

OFM-nuus het vroeër berig Martin van Biljon, Lukas se broer, het Saterdag op Facebook geskryf ’n mens hoor van plaasaanvalle en plaasmoorde, maar dit word eers ’n werklikheid wanneer dit met jou eie mense gebeur. "My hart is vandag gebreek. Hoe kan 'n mens so wreed wees? Ons mag nie haat en wraak neem nie, maar ek vind dit moeilik op hierdie Saterdag.

‘Dit is nie hoe ons veronderstel is om te lewe nie’

“Wat kan jy doen as jy wakker gemaak word met ’n 9mm teen jou kop? Luke vasgemaak, hom herhaaldelik met ’n mes gesteek ... hom geskop ...  gesê hulle gaan sy seun voor hom doodskiet as hy nie geld wil gee nie ... my ouboet drie keer in sy bors geskiet... kinders darem gespaar.”

“Dit is nie hoe ons veronderstel is om te leef nie. Vrees elke dag met die wete enige iets kan om elke hoek gebeur."

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.