Central SA
Geskorste adjunkhoof van Upington terug by skool─── 08:05 Fri, 16 Dec 2022
Die Departement van Onderwys in die Noord-Kaap sê hy neem kennis van 'n besluit deur die Raad vir Onderwysarbeidsverhoudings dat die geskorste adjunkhoof van Laerskool Vela-Langa in Upington kwaadwillig vervolg is.
Dit volg nadat onderwysers 'n klag van seksuele teistering teen hom ingedien het.
Die provinsiale woordvoerder van die departement, Sydney Stander, sê ongeag die feit dat die skorsing tersyde gestel is, gaan die saak teen die betrokke adjunkhoof voort.
LEES OOK: Departement sê ondersoek teen adjunkhoof duur voort
Die adjunkhoof het die departement kort ná sy skorsing voor die arbeidsverhoudingsraad gedaag en moet volgens die raad se bevinding skadevergoeding van R20 000 ontvang.
Stander sê die departement gaan die saak na 'n tribunaal verwys vir 'n finale beslissing. Hy het bevestig dat die betrokke adjunkhoof intussen in sy pos heraangestel is.
OFM-nuus/Roderick Titus