Central SA
Geslagsgebaseerde geweld 'nog ‘n pandemie in Suid-Afrika'─── HEIDRÈ MALGAS 12:32 Wed, 12 Oct 2022
‘n Vrou van Lethabopark, Roodepan in Kimberley, is die afgelope naweek deur ‘n groep mans verkrag en toe vermoor.
Die DA in die Noord-Kaap se woordvoerder vir veiligheid, vervoer en skakeling, Ofentse Mokae, het gesê die voorval het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en haar familie en vriende hartseer gelaat. Bowenal is daar 'n diepe woede vir die oortreders van hierdie barbaarse en verskriklike daad.
“Hierdie voorval het dit pas weer na vore gebring dat dit die tweede pandemie is wat ons as 'n land in die gesig staar, hierdie geslagsgebaseerde geweld,” het hy gesê.
Mokae het verder bygevoeg dat baie deur die polisie gedoen moet word en geen steen moet onaangeraak gelaat word nie om diegene wat vir hierdie misdaad verantwoordelik is, vas te trek.
Hy het verder bygevoeg dat in die groter prentjie, gemeenskapslede moet saamstaan en GBV aktief moet beveg. Tweedens moet die SAPD versterk word met voldoende hulpbronne, finansieel sowel as menslike hulpbronne.
“Ons polisiekantore het 'n ernstige tekort aan voertuie en polisielede. Lui en onbevoegde lede moet van hul verantwoordelikhede gestroop word. Ons as openbare verteenwoordigers moet die werk van die SAPD monitor en diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik hou,” het hy gesê.
Mokae het gesê dat hy namens die DA hul innige meegevoel aan die familie van die Kimberley-slagoffer, Tankiso Tawanyane, oorgedra het, gegewe die trauma wat haar familie ervaar het en die spanning waaronder hulle hulself nou bevind. Hy het die DA daartoe verbind om druk op die provinsiale regering en departemente - insluitende Veiligheid, Maatskaplike Ontwikkeling en die Premierskantoor - te plaas om hul beloftes na te kom met betrekking tot bystand wat aan die gesin belowe is.
Verder sê hy dat hulle nie amptelike inligting van die polisie oor die saak ontvang het nie en dat daar nog geen inhegtenisnames was nie.