On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse rehabilitasiesentrum vir diere is dankbaar vir suksesse

───   12:36 Thu, 30 Jan 2025

Noord-Kaapse rehabilitasiesentrum vir diere is dankbaar vir suksesse | News Article
Rooikat by Kalahari Wildlife Project. Fotograaf: Anlea du Plessis

“Ek glo ons elkeen is geskep om na iets om te sien op die aarde.”

Teen dié agtergrond vertel Machel van Niekerk, eienaar en bestuurder van Kalahari Wildlife Project, opgewonde van verskeie projekte by dié rehabilitasiesentrum. “Ons wil graag ’n verskil in die Noord-Kaap maak.”

Vier gerehabiliteerde rooikatte is onlangs suksesvol vrygelaat in dié provinsie. Hulle is na die sentrum gebring deur boere van die omgewing nadat hul gevang is op verskeie plase.

“Rooikatte is een van ons ongediertes in die Noord-Kaap omdat ons baie veeboere het en saam met die jakkalse is hulle ’n groot probleem,” vertel Van Niekerk. “Die boere is ook lief vir die natuur en wil nie graag alles doodmaak nie. Hulle het gevra of daar moontlik ’n plek is waarheen die rooikatte kan gaan.”

Machel van Niekerk met vrylating van ietermago. Foto: Karin du Plessis

Die rooikatte wat gerehabiliteer en vrygelaat is, sluit ’n ouer mannetjie en ’n wyfie met twee kleintjies in. Weens die huidige droogte en hitte kon die diere nie vroeër uitgeplaas word nie. Wanneer omstandighede nie gunstig is in die natuur vir vrylating nie, word die diere langer in die rehabilitasiesentrum versorg.

“Ons werk baie nou saam met natuurbewaring wat vrylating betref. Ons laat nie net diere vry op plekke waar ons goeddink nie. Daar is ’n proses vir elke dierspesie, en in samewerking met verskeie instansies word daar besluit waar dit die beste sal wees om die diere vry te laat.

Elke dier se lewe ’n projek

“Diere gaan ook deur verskeie veeartsenytoetse en word gemonitor ná vrylating om te bepaal hoe hulle aanpas. Vrylating is nie net een persoon of instansie wat besluit nie.

“Dit behels die samewerking van verskeie natuurkenners,” verduidelik Van Niekerk. “Elke dier wat deur die sentrum gaan, se lewe word as ’n projek beskou en elkeen word so versorg.”

Kalahari Wildlife Project spesialiseer in die red en rehabilitasie van beseerde dier- en voëlspesies van die Noord-Kaap. Hulle werk selfs met diere wat gered is uit onwettige handel.

Die vrylating van die rooikatte is maar een van vele projekte waarby Kalahari Wildlife Project betrokke is. Diere word dwarsdeur die jaar vrygelaat. Foto verskaf

Omstandighede moet optimaal geskik wees vir elke spesie voordat vrylating plaasvind. Spesies wat al suksesvol gerehabiliteer en vrygelaat is, sluit in meerkatte, ietermago’s, valke, luiperds, jagluiperds, aardwolwe, erdvarke, uile, dassies en muskeljaatkatte.

Die ouderdom van die diere speel ’n rol in hul rehabilitasie. Hulle word met so min moontlik menslike interaksie behandel vanaf speenouderdom. Natuurlike instink kry die oorhand namate kleintjies blootgestel word aan hul natuurlike omgewing. “Ons maak regtig seker dat hulle in die natuur na hulself kan omsien.”

Die vrylating van twee muskeljaatkatte. Foto: Helgaart Pretorius

Van Niekerk sê hulle kry raad van dwarsoor die wêreld oor diere wat hulle versorg. “Ons het ’n groot netwerk van mense waarmee ons werk.”

Navorsing oor elektriese heinings is ’n belangrike kwessie vir hom. “Dit het ’n groot effek in die Noord-Kaap omdat veeboere ál meer elektrifiseer, en dit is ’n groot probleem vir ons bedreigde spesies soos die ietermago’s, aasvoëls en skilpaaie.”

Sy vra kundiges met raad moet die sentrum nader om saam te werk aan oplossings, ook diegene wat betrokke wil raak by die navorsing om terselfdertyd die elektriese heinings veilig te maak vir bedreigde spesies en die ongediertes uit te hou.

Erdvark by Kalahari Wildlife Project.  Foto: Anlea du Plessis

FotoHul eie kliniek op die sentrum se perseel, waar veeartse diere besoek wat mediese sorg nodig het, help beperk die vervoer van diere. Van Niekerk is ’n gekwalifiseerde veeartsassistant met etlike jare se ondervinding in en kennis van diereversorging.

Kalahari Wildlife Project het in 2016 begin en is geregistreer by die departement van natuurbewaring. Dié sentrum kan slegs deur voorafbespreking besoek word. Hulle hou gereeld inligtingsessies vir skole en groepe.

Besoek hul webtuiste om meer uit te vind oor skenkings en inligting oor rehabilitasie en projekte.

OFM Nuus/Gerda Niemann cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.