On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Nog ’n sakeman van Vereeniging ontvoer

───   ZENANDE MPAME 13:24 Thu, 30 Jan 2025

Nog ’n sakeman van Vereeniging ontvoer  | News Article
Nog ’n sakeman van Vereeniging ontvoer. Foto: Facebook/Midvaal Community

Die polisie in Gauteng is steeds op soek na ’n sakeman van Vereeniging wat twee weke gelede ontvoer is.

Vier mans het Junaid Hoosen, eienaar van Elegant Auto Group, ’n motorhandelaar in Duncanville, op Vrydag 17 Januarie volgens bewering met geweld in ’n blou BMW 3-reeks ingedwing en met hom weggejaag. 

“Ons kan bevestig dat Junaid Hoosen nog nie gevind is nie,” sê Dimakatso Nevhuhulwi, provinsiale polisiewoordvoerder. “Ter wille van die slagoffer se veiligheid kan ons nie nadere besonderhede oor die ontvoering bekendmaak nie.”

In Augustus verlede jaar is nog ’n sakeman van die Vaaldriehoek ontvoer, maar einde Oktober vrygelaat nádat ’n losprys betaal is.

Die blou BMW 3-reeks wat na bewering die sake-eienaar ontvoer het. Foto: Facebook/Vaal Journal

Gewapende ontvoerders het Irfaan Dadabhay, eienaar van Mimosa Sweets, voor sy onderneming in Vereeniging aan sy arms en bene gesleep en in ’n motor geboender, waarna hulle met hom weggejaag het. ’n Rooi Hyundai-sportnutsvoertuig, wat vermoedelik in die ontvoering gebruik is, is later in die Phumasbethane-plakkerskamp naby Sharpeville gevind.

Intussen sal nege verdagtes Maandag (3 Februarie) in die Mankwane-landdroshof in Phuthaditjhaba verskyn vir die beweerde ontvoering van ’n familie in Phuthaditjhaba.

Thabo Tladi (36), Tebello Mofokeng (31), Tshepo Mabe (29), Bongani Mathebula (33), Vusimusi Mkhoma (29), January Matsoso (34), Tshepo Mokoena (36), Thapelo Mokalanyane (29) en Themba Mokoena (38) het Maandag vlugtig in dieselfde hof verskyn op aanklagte van ontvoering. Hulle bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.

Vroulike ontvoerder in hegtenis geneem

“Die verdagtes is gevind met ’n groot bedrag kontant, drie selfone en ’n 9 mm-pistool,” sê Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Hulle het die misdaad volgens die polisie gepleeg vir ’n losprys.

Op 23 Desember het polisiebeamptes ’n ontvoerde Pakistanse sakeman gered en ’n vroulike ontvoerder (46) in Sebokeng vir moord en ontvoering in hegtenis geneem, berig Vaalweekblad. Drie mans in ’n BMW X5 het die sakeman na bewering twee maande vantevore in Lenasia, suid van Johannesburg, ontvoer.

’n Losprys van R12 miljoen is glo onmiddellik geëis vir die vrylating van die ontvoerde slagoffer. Volgens ’n ingeligte bron het die sakeman se familie R800 000 betaal, maar die ontvoerders het meer geëis.

Die vroulike ontvoerder (46) was in Sebokeng vir moord en ontvoering in hegtenis geneem. Foto: Verskaf

Ná ’n uitgebreide ondersoek het die polisie se ontvoeringspan en beamptes van verskeie ander wetstoepassers inligting opgevolg wat hulle bekom het oor die ligging van die verdagtes in Sebokeng.

Tydens ’n soektog in Sebokeng het die span die slagoffer in ’n woonplek aangetref. Die liggaam van ’n ongeïdentifiseerde man is ook daar gevind. Die vroulike ontvoerder is op die toneel aangekeer, het lt.kol. Amanda van Wyk, polisiewoordvoerder, gesê.

Luidens misdaadstatistieke vir die tweede kwartaal (Julie tot September) van 2024/2025 is 4 627 ontvoerings in dié drie maande aangemeld, 327 meer as in die tweede kwartaal van die vorige boekjaar. Die 2 498 ontvoerings in Gauteng is meer as die helfte van die nasionale totaal en 304 meer as ’n jaar vantevore.


In die Vrystaat het ontvoering jaar op jaar van 166 tot 140 afgeneem en in Noordwes van 210 tot 196, maar in die Noord-Kaap is 45 mense ontvoer, een meer as in die vorige tweede kwartaal.

“Ons sien dat baie sakelui en welgestelde mense geteiken word, maar in baie gevalle kies verdagtes net ’n teiken in ’n winkelsentrum of elders, ontvoer hulle en hou hulle as gyselaars,” sê Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.

“Ons is taamlik vol vertroue dat ons die nodige vordering maak. Ons doen ’n beroep op gemeenskappe om nou saam met ons te werk en enige verdagte aktiwiteit by die polisie aan te meld.”

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.