Central SA
Honderde grootflaminke kom in Noord-Kaap aan─── 15:42 Thu, 25 Aug 2022
Honderde grootflaminke en ander voëlsoorte het by ‘n wildplaas buite Kimberley aangekom, nadat die pan jare lank kurkdroog was.
Meer as 300 grootflaminke en talle soorte watervoëls het op die Marrick Safari-wildplaas van Trevor Datnow, minstens 12 kilometer buite Kimberley, toegesak nadat die nie-standhoudende pan danksy die buitengewone hoë reënval weer water dra.
Datnow sê meer as 1 200 millimeter reën het sedert Oktober 2021 op die plaas uitgesak, wat die meeste is wat hy in dertig jaar gemeet het.
Dié wildplaas is een van die plase wat gedurende die verwoestende veldbrande in 2021 grootskaalse skade gely het.
Datnow sê die water in die pan is nie baie diep nie, maar blywend omdat die grond versadig is.
Hy sê die watervoël- en flaminkbevolking van meer as 300 vreet aan die brachiopoda skaal- en weekdiere, wat aangepas is om in ekstreme pantoestande te oorleef en voort te plant. Dit is ‘n skouspel vir enige voëlliefhebber.
Hy sê die huidige telling is bevredigend, veral omdat nog voëls verwag word.
Datnow sê verder dat die weiveld op die plaas, asook ondergrondse water, goed sedert die droogte en veldbrande herstel het.
Daar is egter kommer wat heers oor die gras wat wederregtelik en opsetlik aan die brand gesteek word. Dit bedreig opnuut boere en plaaswerkers se lewensbestaan, asook die veiligheid van hulle diere.
OFM-nuus/Roderick Titus