On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Eskom oorweeg beurtkragvrystelling vir Vrystaatse besproeiingsgebiede

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Thu, 29 Feb 2024

Eskom oorweeg beurtkragvrystelling vir Vrystaatse besproeiingsgebiede  | News Article
Foto: Roelf Jacobs

‘Dit is ‘n gesamentlike poging om ’n oplossing vir die uitdagings van beurtkrag te vind en om die landboubedryf te ondersteun.’

Eskom het onlangs aangekondig hy oorweeg om kritieke besproeiingsgebiede in die Vrystaat van beurtkrag vry te stel. 

Dit is in reaksie op die toenemende invloed van beurtkrag op landbouaktiwiteite, veral besproeiingsboerdery, wat ’n kritieke rol speel in voedselproduksie, veral tydens kritieke groeifases van gewasse.

Eugene Myburgh, kliënteverhoudingbestuurder van Eskom, verduidelik hoe hierdie maatreëls toegepas kan word. Hy sê daar is twee hoofopsies – kragbestuur en kragvermindering. Dit beteken gemeenskappe bestuur self hul kragverbruik gedurende spesifieke tye, terwyl kragvermindering die gebruik van slimmeters insluit om die kragtoevoer na kliënte te beperk sonder om dit heeltemal op te skort.

Myburgh sê daar is geen beperking op die aantal gebiede wat vir hierdie vrystelling kan aansoek doen nie. Die toepassing van hierdie maatreëls vereis egter samewerking van die gemeenskap, insluitend boereverenigings en ander organisasies.

Die ekonomiese invloed hiervan is groot. Besproeiingsboere, wat dikwels afhanklik is van ’n konstante kragtoevoer, kan hul omset verbeter en ekonomiese groei in hul gemeenskappe aanmoedig. Die vrystelling van beurtkrag vir besproeiing is nie slegs ’n aanwins vir boere nie, maar ook ’n stap in die regte rigting vir die land se voedselsekerheid.

Eskom wil besproeiingsboere help met beurtkrag. Foto: Reuters

Vrystaat Landbou en Eskom het die gemeenskap aangemoedig om betrokke te raak en hul steun vir hierdie inisiatief te betuig. Dit is ‘n gesamentlike poging om ’n oplossing vir die uitdagings van beurtkrag te vind en om die landboubedryf te ondersteun.

Kempen Nel, besproeiingsboer wat op die kommersiële komitee van Vrystaat Landbou dien, sê die besluit om vrystelling te gee hang af van die vermoë om energieverbruik op netwerke te verminder.

Verlaagde energieverbruik-netwerke is gebiede of lyne wat 'n algehele vermindering van elektrisiteitsverbruik vir 'n sekere tydperk kan bewerkstellig. Dit vereis dat gemeenskappe nie-noodsaaklike toestelle afskakel. Sodra 'n vermindering bereik is, bied dit Eskom die vermoë om daardie gebied/lyn van beurtkrag vry te stel. Gemeenskapsamewerking en slimmeters speel 'n deurslaggewende rol in hierdie proses.

‘Positiewe oplossing vir besproeiingsuitdagings’

“Clarens in die Oos-Vrystaat is nou vir ses maande beurtkragvry sedert hulle hierdie
tegnologie met slimmeters beproef het. Dit bied ’n positiewe oplossing vir besproeiingsuitdagings en kan nou elders toegepas word,” sê Nel.

* Gemeenskaps- en organisasieleiers (insluitend boereverenigings) wat belangstel om kragvermindering toe te pas kan ’n e-pos stuur na MyburgEC@eskom.co.za.

OFM Agri/Robyn Schutte dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.