On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaatse besproeiingsboere worstel met fase 6-beurtkrag

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Mon, 19 Feb 2024

Vrystaatse besproeiingsboere worstel met fase 6-beurtkrag | News Article
Fase-6 beurtkrag verhoed besproeiingsboere om genoeg water neer te lê. Foto: Getty Images

Boere in die Vrystaat is bekommerd oor opbrengste en finansiële verlies weens die voortdurende beurtkrag.

Hittegolftoestande en beurtkrag het ’n verwoestende invloed op mielie- en sojaboonoeste, beide op droë land en besproeiingsplase.

Boere in die Vrystaat is bekommerd oor opbrengste en finansiële verlies weens die voortdurende beurtkrag.

Kempen Nel, Vrystaat Landbou-bestuurslid en besproeiingsboer, het die erns aan OFM bevestig en praat met Robyn Schutte oor die invloed op mielie-aanplantings in die omgewing van die Oranje-Riet-watergebruikersvereniging (WGV).

"Langdurige fase-6 beurtkrag verhoed besproeiingsboere om genoeg water neer te lê om in die optimale behoeftes van die mielieplant te voorsien," sê Nel.

Nel beklemtoon ook die frustrasie wat ontstaan  weens die toepassing van beurtkrag wat dikwels die platteland benadeel. "Boere en plattelandse gemeenskappe loop onder baie meer ure van beurtkrag deur as wat daar in die stede ervaar word. Ons wil (by Eskom) ’n duidelike antwoord op hierdie onreg hê."

Nel het die erns van die situasie beklemtoon en sê Jan Alleman besef nie hoe groot die invloed van beurtkrag op besproeiing is nie. Daar word in die droë land 20 000 - 28 000 mielieplante per hektaar geplant, onder besproeiing vermeerder hierdie getal tot 95 000 tot 110 000 plante per hektaar. “Die waterdruk en noodsaaklikheid is van so aard dat dit aanmekaar gelewer moet word. Andersins is dit ’n tekort. Dit is van kardinale belang vir ons in so ’n tyd dat ons krag moet hê."

Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit. Foto:  GCIS

Vrystaat Landbou wil nou die kwessie van beurtkragvrystelling dringend laat ondersoek na aanleiding van ’n hofbevel wat Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, opdrag gegee het om hospitale, skole en polisiekantore van beurtkrag vry te stel.

"Die hof het verklaar verskeie menseregte, soos toegang tot water en voedsel, geraak word deur beurtkrag. Ons (besproeiingsboere) is die voedselvoorsieners, maar word deur beurtkrag beperk of verhoed om dié behoefte aan te spreek en daarom is ons van mening dat landbou ook dringend van beurtkrag vrygestel moet word."

‘As ek nie water het nie, kan ek nie kos maak nie’

Nel sê water in die stad en water vir ’n produk wat jy produseer is presies dieselfdes. “As ek nie water het nie, kan ek nie kos maak nie. Maar as ’n boer nie kan graan of lusern produseer nie, gaan hy ook nie die diere kan voer nie.

Dus gaan dit nie net oor die mense se rakke wat leeg is nie, maar oor voerkrale, voedingshuise vir hoenders, en alle ander landboubedrywe wat op water en konstante kragverskaffing staatmaak.

Vrystaat Landbou het ’n geskeduleerde vergadering met Eskom op 23 Februarie om die kwessie van beurtkrag dringend te bespreek. Nel sê die huidige situasie benadeel die landbougemeenskap en daar is ’n dringende behoefte aan ’n oplossing.

OFM/Agri dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.