On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Veediefstal: ‘Hou aan rapporteer’

───   ELZETTE BOUCHER 15:02 Mon, 11 Dec 2023

Veediefstal: ‘Hou aan rapporteer’ | News Article
Foto: Getty Images

Al hoe meer vee word op ‘n slag gesteel in die Vrystaat en boere is raadop. Ontleders vra egter dat produsente aanhou om sake te rapporteer sodat die misdaad aangespreek kan word.

Dr. Jane Buys, risiko- en veiligheidsontleder by Vrystaat Landbou, vertel hul navorsing wys dat veediefstal ’n georganiseerde misdaad is en dat dit deur sindikate en groeperinge bedryf word, en ook toenemend deur mense wat gewapen is. Dus het veediefstal ook elemente van geweldsmisdaad.

OFM Inhoudsbestuurder, Elzette Boucher-Krüger, het by Buys gaan aanklop vir meer oor die jongste tendense in terme van hierdie georganiseerde misdaad en raad vir produsente.

Buys noem ook hoewel die polisie se aangemelde misdaadsyfers onder die kommersiële en bestaansboerdery ‘n afname toon, dat dit nie noodwendig beteken dat vee minder gebuit word nie. Meer vee word op ‘n slag gesteel en daar word ook minder sake aangemeld omdat boere voel dit help nie.

“Jy sien omtrent so tien aangemelde sake per dag. Ons het egter omtrent 20 na 30 sulke gevalle per dag wat aan ons gerapporteer word. Dit betekend dat daar 70 tot 80-persent van gevalle nie aangemeld word nie.”

Baie van hierdie gesteelde vee word dan oorgrens na ander provinsies of buurlande vervoer. Daar is ook plaaslike afsetgebiede veilingshuise, abattoirs, formeel en informeel waar die diere heen gaan.

Ten einde die polisie se hand te versterk en die kapasiteitsprobleme met ondersoeke aan te spreek het Vrystaat Landbou in Julie vanjaar ook ‘n privaat ondersoekeenheid op die been gebring. Sedertdien is sowat R3-miljoen se vee teruggevind.

Buys verduidelik egter dat die eenheid slegs betrokke kan raak by sake wat reeds by die polisie aangemeld is. Vee moet ook getatoeëer en gebrandmerk wees om eienaarskap te bewys.

Verder is goeie praktyk ook om ‘n veeregister te hê en dat boere gereeld hulle vee tel. Produsente moet ook seker maak dat hulle betroubare werkers in diens het wat toegang tot hul plaas en vee het. Inspekteer ook daagliks lyndrade, hekke, heinings, en laaibanke. Rapporteer ook enige verdagte persone of aktiwiteite aan die plaaslike boereverenigingverteenwoordiger of polisie.

Boere word ook aangemoedig om hierdie feestyd self betrokke te raak by misdaadvoorkomingsoperasies soos blouligpatrollies.

“Om veediefstal egter effektief aan te spreek lê ook by die polisie se misdaadintelligensie, sigbare polisiëring, en dan georganiseerde misdaad. Waar daar aantygings is dat polisiemanne moontlik betrokke is, dan moet die Valke ook betrokke raak.”

OFM Agri


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.