South Africa
George-rampverslag: Beskuldigings heen en weer geslinger─── 15:23 Thu, 10 Apr 2025

Beskuldigings word heen en weer geslinger oor wie presies aanspreeklik is vir die George-gebou se ineenstorting in Mei verlede jaar.
Dié tragedie, wat talle lewens geëis het, lig ernstige gebreke uit oor toesighouding in die konstruksiebedryf en spoor dringende regeringsoptrede aan om regulasies te verskerp.
Sommige van die bevindings van ’n forensiese ondersoek sluit in nalatigheid, wangedrag, sistemiese mislukkings en veiligheidsoortredings. Die kompleksiteit van bouprojekte, waarby verskeie rolspelers soos argitekte, ingenieurs, kontrakteurs en verskaffers betrokke is, maak dit egter moeilik om aanspreeklikheid te bepaal.
#MediaBriefing Minister of Human Settlements, Thembi Simelane briefs the media on the outcomes of the National Home Builders Regulatory Council’s investigation into a building that collapsed in George, Western Cape, in 2024.
— GCIS_Northern Cape (@GCISNorthernCap) April 9, 2025
The media briefing follows the Minister’s undertaking a… pic.twitter.com/iaNmyU2OnL
Thembi Simelane-Nkadimeng, minister van menslike nedersettings, het Woensdag (9/4) in ’n media-inligtingsessie die bevindings bespreek van die ondersoek ná die ineenstorting van dié vyfverdieping-ontwikkeling in die Wes-Kaap, bekend as 75 Victoria, waarin 34 mense dood is en tientalle beseer en onder die puin vasgekeer was.
Die minister het beklemtoon dat slegs “geakkrediteerde beroepslui” by behuisingsprojekte betrokke moet wees, veral dié projekte wat daarop gemik is om die behuisingskrisis, wat sowat twee miljoen Suid-Afrikaners raak, die hoof te bied. Sy het die bevindinge van die forensiese ondersoek deur die Nasionale Huisbouers Registrasieraad (NHBRC) as “skokkend” beskryf.
Simelane-Nkadimeng sê die ontwikkelaar het versuim om sy voorneme te verklaar om ’n veelverdiepinggebou te bou en dit eerder as ’n enkelverdieping geregistreer. Hierdie wanvoorstelling het gelei tot ’n gebrek aan behoorlike toesig.
Een van die belangrikste regulatoriese oortredings wat opgemerk is, is dat “die aansoekvorms op 11 Julie 2023 verwerk is, al is die begindatum van die bouwerk vir 19 Junie 2023 geskeduleer”. So kon die bouery begin sonder die verpligte NHBRC-inskrywing, wat veiligheids- en nakomingsprotokolle oortree het.
Volgens die minister was die ineenstorting die gevolg van “sistematiese mislukkings oor verskeie vlakke van toesig heen,” insluitend inspeksies, materiële kwaliteitskwessies en onreëlmatige goedkeurings. Die NHBRC se interne beheermaatreëls en inspektoraat is direk geïmpliseer.
Die betrokke amptenare is geskors en die saak is na die polisie verwys. Aanklagte sluit in “pligsversuim, wangedrag, nalatigheid, oneerlikheid en wanvoorstelling”.
Kontrakteur beplan regstappe
Prof. Richard Walls, siviele-ingenieursdeskundige aan die Universiteit Stellenbosch, sê dié verslag is nie ’n ingenieursontleding nie, maar ’n regulatoriese ondersoekverslag. Dit het meer te doen met die rol van die NHBRC oor die prosesse, maar verklaar nie presies hoe die gebou ineengestort het nie.
Die kontrakteur sê intussen hy beplan regstappe teen die individue en maatskappye wat hy glo verantwoordelik is, terwyl minister Simelane-Nkadimeng sê hyself staar strafregtelike klagte in die gesig.
Theuns Kruger, die kontrakteur en eienaar van Liatel Developments, het in ’n onderhoud met die Cape Argus gesê hulle werk saam met die owerheid, insluitend die NHBRC, en hou vol die maatskappy is nie aanspreeklik vir die tragedie nie.
Kruger het op die bevindings van die ondersoek gereageer. In die verslag is bevind hoewel die materiaal wat vir die bouery gebruik is van goeie gehalte was, die gebou se struktuur nie ontwerp is om die gewig te dra nie.
Walls sê as die ineenstorting weens ’n ontwerpfout was, het dit min direk met die NHBRC te doen. “(Die ontwerp) was die betrokke ingenieurs se verantwoordelikheid. Munisipaliteite gaan nie ontwerpberekeninge na nie; dit is nie in hul vermoë nie en ook nie hul rol nie.
“Dit sal dus neerkom op ’n tekortkoming van die ingenieurs. As ’n mens egter ’n bevoegde kontrakteur het en ingenieursfoute kom voor, sal ’n ervare kontrakteur gewoonlik daardie foute raaksien en die konstruksie aanpas,” sê Walls.
Die kompleksiteit van bouprojekte maak dit egter moeilik om aanspreeklikheid te bepaal. Foto: X
In die forensiese ondersoek is ook aan die lig gebring ongekwalifiseerde individue sonder behoorlike ingenieurswese-vaardighede was by die projek betrokke. Ondersoekers het ook probleme met registrasieprosesse en oortredings van beroepsgesondheid- en veiligheidsregulasies gevind.
Die planne vir die projek is deur die raadgewende ingenieur Atholl Mitchell goedgekeur. Die Ingenieursraad van Suid-Afrika het aan Daily Maverick bevestig dat ’n klag voorheen oor ’n geregistreerde persoon ontvang is, wat tot ’n ondersoek gelei het.
Die ondersoek het glo op Mitchell gefokus nadat ’n klag oor sy gedrag op boupersele ingedien is. Geen stappe is egter gedoen nie weens onvoldoende bewyse.
Human Settlements Minister Thembi Simelane has revealed that major irregularities were behind the collapse of the George building, which claimed the lives of 34 workers in May last year.
— MDN NEWS (@MDNnewss) April 9, 2025
A forensic probe revealed that unqualified individuals without proper engineering… pic.twitter.com/GOnqYO7YuU
Intussen ontken George-munisipaliteit aantygings dat bouwerk begin het sonder goedgekeurde planne. Hy sê al was die NHBRC-registrasie gebrekkig, was “die enigste bouplanaansoek wat by die munisipaliteit ingedien is vir ’n vyfverdiepingontwikkeling,” en dat alle munisipale beplanningsgoedkeurings in plek was.
Munisipale woordvoerder Chantel Edwards sê die munisipaliteit het gewaarsku dat bouwerk nie moet begin voor plangoedkeuring nie, maar bevestiging is eers op 6 Julie 2023 ontvang – drie dae nadat bouwerk na bewering begin het.
Die tragedie het die landwye hersiening van mislukte toesighouding tydens konstruksie genoodsaak en die behoefte aan sistemiese hervorming beklemtoon. Die departement van menslike nedersettings stel nou ’n nuwe wetsontwerp op om die tekortkominge op te los wat in die verslag uitgelig is.
OFM Nuus mvh