South Africa
Nasionale DBV gou onder vergrootglas in hooggeregshof─── 11:00 Wed, 09 Apr 2025

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) van Suid-Afrika word in die hooggeregshof in Pretoria aangekla weens ontevredenheid met die bestuur en hantering van Dierebeskermingsverenigings landwyd.
Die DBV’s van Bethlehem en Tshwane het die wiele verlede jaar aan die rol gesit in hierdie regsaksie.
Die hof word onder meer versoek om die heraanstelling van Corlene van der Merwe, voormalige voorsitter en lid van Bethlehem se DBV, te gelas. Sy is op 29 Oktober na bewering onregverdig deur die NDBV van haar amp onthef.
Daar word jaarliks ’n gholfdag ten bate van die Bethlehemse DBV gehou. Van links op die foto: Ezmarie van Litsenborgh, Martin Dreyer, Marlize Naudé, Corlene van der Merwe (voorsitter van die Bethlehem DBV), Hester Esterhuizen, Mariana Hintze en Marius Dreyer. Groepfoto: Argief Bethlehem DBV
Die twee DBV’s se regsverteenwoordiger is Marlene Marais van MDM Attorneys in Bloemfontein. ’n Versoekskrif oor die nadelige hantering van DBV’s deur die NDBV het duisende handtekeninge opgelewer en is reeds in 2024 aan John Steenhuisen, minister van landbou, gestuur.
Dit volg op ontevredenheid oor die NDBV se bestuur en hantering van DBV’s in Suid-Afrika. Daar is net sowat 67 van die sowat 90 DBV’s oor, wat ’n donker prentjie skets.
Op die NDBV se nasionale jaarvergadering in Oktober kon net 17 DBV’s stem omdat hulle nog in goeie bedryf is.
Die DBV in Bethlehem word gereeld deur skoolgroepe besoek as deel van opvoedkundige uitstappies. Foto: Argief Bethlehem DBV
In ’n verklaring deur adv. Pule Baloyi, ’n lid van die Pan African Bar Association of South Africa, op 7 April bevestig hy dat ’n aansoek uitgereik is en op die respondente bedien word.
Hierin word versoek dat die hooggeregshof Steenhuisen beveel om sy statutêre toesig ten opsigte van die NDBV-raad na te kom en ’n ondersoek te gelas asook ’n forensiese oudit van die NDBV.
Baloyi vra die voorlopige opskorting van sekere sleutelrolspelers in die raad van die NDBV weens hulle moontlike optrede wat gelei het tot die sluiting van talle DBV-verenigings.
As die aansoek suksesvol is, sal die landbouminister terugrapporteer aan die hof wanneer die ondersoek en forensiese oudit afgehandel is.
‘Fundamenteel tot die beskerming van alle diere teen mishandeling’
Volgens Baloyi is die behoorlike funksionering van die NDBV noodsaaklik vir sukses by DBV’s en in die beste belang van alle diere. In die hofaansoek teen die NDBV verklaar die DBV’s van Bethlehem en Tshwane dat die regte van diere van kardinale belang is, en dat die welstand van alle diere die kern is van hulle aansoek by die hof.
Hulle sal argumenteer die bestaan van DBV’s vir die voorkoming van wreedheid teenoor diere is fundamenteel tot die beskerming van alle diere teen mishandeling en die bevordering van dierewelsyn.
Baloyi sê in sy verklaring die aansoek van die twee DBV’s is van belang vir alle DBV-verenigings in die land.
Foto: Argief Bethlehem DBV
“Daar is geen pad vorentoe met die NDBV onder die huidige raad en direkteure nie. Hulle is nie in staat om hul statutêre pligte en mandaat ten opsigte van DBV’s en die voorkoming van dieremishandeling na te kom nie.
“Ons versoek DBV-gemeenskappe om hierdie dapper dierebeskermingverenigings te ondersteun.”
OFM Nuus het die minister en die NDBV om kommentaar genader.
OFM Nuus/Susan Maré mvh/cg