South Africa
Help om liggaam in see by Plettenbergbaai uit te ken, vra polisie─── 09:15 Wed, 19 Mar 2025

Die Suid-Kaapse polisie vra die publiek se hulp om ’n man uit te ken wie se liggaam uit die brandersone by Plettenbergbaai gehaal is.
Plettenbergbaai se NSRI-span is vroeg Dinsdagmiddag (18/3) uitgestuur ná berigte van lewensredders op die strand van ’n liggaam in die water by Lookout Rocks naby The Plettenberg-hotel.
Hengelaars wat van die kus af gehengel het, het Bitou-haaikykers daar naby laat weet hulle het ’n man gewaar wat op sy maag in die see dryf. Blykbaar het ander ooggetuies gesien hoe hy vanaf die rotse in die water ingaan.
Hulp met uitkenning
Toe die haaikykers en strandbeamptes op die toneel aankom, het hulle die hulp van die NSRI ontbied, wat ’n reddingsvaartuig te water gelaat het. Intussen is die polisie en Wes-Kaapse mediese nooddiens ook ontbied.
Bitou-lewensredders was by die liggaam in die brandersone toe die NSRI opdaag, wat die man met hul vaartuig strand toe gebring het. Hy was reeds oorlede.
Enigeen met inligting wat die polisie kan help om hom uit te ken, kan Plettenbergbaai se polisiekantoor by 044 501 1900 bel.
Linda Barrett en Darren Sutton, wat amper verdrink het met vakansie in Suid-Afrika. Foto: Facebook/Darren Sutton
Intussen betuig ’n Britse toeris, wie se lewe deur die NSRI by Wildernisstrand gered is, sy dank aan die instituut in ’n videoboodskap. Darren Sutton (59) het Vrydag 17 Januarie in die moeilikheid beland toe hy in ’n skeurstroom beland het terwyl hy geswem het.
Dié inwoner van Northumberland was saam met sy vrou, Linda Barrett, met ’n drie week lange vakansie in Suid-Afrika en het twee nagte in ’n bed-en-ontbyt in Wildernis tuisgegaan. Toe Barrett sien haar man verkeer in gevaar tydens sy oggendswem, het sy George se NSRI- munisipale lewensredders genader.
Die NSRI-lewensredder Channah van Coller is dadelik die water in ’n torpedoreddingsboei. Toe sy hom agter die branders bereik, het sy hom aangesê om aan die boei vas te hou.
Sy het met hom uitgeswem deur die brandersone. Op die strand is hy veilig met sy vrou herenig. Lewensredders het hom ondersoek, maar hy het geen mediese bystand nodig gehad nie.
Die egpaar het kort ná die voorval gesê hulle was nog effens geskok, maar veral dankbaar teenoor die NSRI. “Die seestrome was baie sterker as wat ek verwag het,” het Sutton, ’n gereelde en bedrewe swemmer, gesê. “Sonder Channah se dapperheid vrees ek wat kon gebeur het.”
See bly gevaarlik
“Haar heldhaftige optrede, in ’n onstuimige see en sterk skeurstrome, en met my wat aan die boei vasgehou het soos sy my aangesê het, sal ’n blywende indruk van dankbaarheid op my en my familie laat.”
In die videoboodskap bedank Sutton Van Coller vir haar professionele optrede wat sy lewe help red het, en hy deel ook wyse waarnemings oor die gevaar wat die see inhou, selfs vir ’n deurwinterde swemmer soos hy.
OFM Nuus mvh