South Africa
Oudgevangene van Sentraal-SA opnuut aangekla─── CORNÉ GREYVENSTEIN 13:24 Fri, 28 Mar 2025

’n Oudgevangene, wat ná miljoene se bedrog gesê het sy het haar lewe omgekeer danksy haar tyd in Noord-Kaapse en Vrystaatse gevangenisse, is volgens vermeende slagoffers na bewering wéér bedrywig.
Minstens twee bedrogklagte is in Maart by die polisie teen Lianné Bekker aanhangig gemaak en word volgens die polisie in Pretoria tans ondersoek.
Dié gewese Bloemfonteinse sakevrou, ook bekend as Lianné Greyling of Li Bekker, is in 2015 in die streekhof op 24 aanklagte skuldig bevind: twaalf van bedrog en twaalf van diefstal ter waarde van sowat R6,1 miljoen. Hierdie aanklagte het verband gehou met die invoer van luukse voertuie en onderdele deur La Bella Imports, bedryf vanuit Gladstoneweg in Bayswater, Bloemfontein, en Copper Moon Trading.
Sy het voorgehou dat sy ’n invoeronderneming bedryf. Vele slagoffers was vriende en familie. Sy is tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis maar ná vier jaar op parool vrygelaat.
’n Inwoner van die Pretoriase voorstad Brooklyn het OFM Nuus onlangs genader nadat sy onraad vermoed het ná ’n transaksie met ene Li Bekker, volgens LinkedIn “die besturende direkteur van Dolce Vita Properties”.
Bekker het glo ’n kooptransaksie aangegaan met ’n huiseienaar in dié boomryke voorstad. Sy het onderneem om okkupasiehuur te betaal totdat die transaksie afgehandel is, wat steeds nie gebeur het nie.
Bekker het die huis glo onderverhuur as ’n studentewoning aangesien dit naby Tukkies geleë is. Sy het glo van die studente se ouers oorreed om die jaar se huur vooruit aan haar oor te betaal.
Mayke Huijbregts, die regmatige eienaar van dié eiendom of “studentewoning”, is ’n Nederlander wat in Suid-Afrika vir die Verenigde Nasies gewerk het.
“Li het ’n aanbod onderteken om die huis te koop en sou okkupasiehuur betaal. Sy het nié … en het eintlik baie meer uit die huis gesteel as wat ek besef het, en ook van die huurders daar.
‘Bedrag geld en bates van haar en die huurders gesteel’
So daar is eintlik ’n baie groter storie,” het ’n ingeligte aan OFM Nuus gesê. “Hierdie arme vrou is heeltemal getraumatiseer,” het sy met verwysing na die oorsese huiseienaar gesê.
Tydens die transaksie het sy elders vir die VN gaan werk en in ’n stadium besef Bekker onderverhuur haar eiendom aan studente terwyl sy ook nie die ooreengekome huur betaal nie. Die huiseienaar het uit Europa aan OFM Nuus gesê Bekker word daarvan beskuldig dat sy ’n groot bedrag geld en bates van haar en die huurders gesteel het.
Lianné Bekker tydens hofverrigtinge vroeër. Foto: OFM Nuus
“Die brief wat ek deur my prokureur aan mev. Bekker gestuur het, beskryf die skade wat ek opgedoen het in detail, sowel as die skade wat alle huurders gely het. Hoe gouer dit ondersoek word, hoe beter.”
Volgens die prokureursbrief aan Bekker is onlangs ontdek dat sy na bewering ook nie die eiendom onderhou het nie. Daar word ook beweer dat sy die volgende items op die eiendom verkoop het:
- ’n JoJo-tenk;
- waterfiltrasiestelsel en UV-ligte om kieme in dié stelsel dood te maak;
- talle potplante;
- ’n slyper;
- ’n kameraskerm;
- twee banke;
- vier lessenaars;
- ’n lang tafel;
- ’n lang bank;
- ’n yskas;
- ’n broodrooster;
- vier bedkassies;
- drie beddens;
- linne; en
- handdoeke.
‘Betaling vir die dienste meer as R80 000 agterstallig’
“Benewens dit was die grootste bekommernis en verrassing toe die Stad Tshwane die krag na en dienste van die eiendom opskort met ’n kennisgewing dat die betaling vir die dienste meer as R80 000 agterstallig is,” lui die prokureursbrief.
“Weens die ontsteltenis waarmee jy ons kliënt gelaat het, is ons kliënt besig om die skade te kwantifiseer, maar sekere skade sal onmiddellik betaal moet word.”
Bekker is voorts gewaarsku indien sy versuim, weier en/of nalaat om die bogenoemde betalings binne sewe dae te doen, “het ons opdrag om vir skadevergoeding te dagvaar en om ’n bedrogklagte in te dien”.
Lianné Bekker tydens hofverrigtinge vroeër. Foto: OFM Nuus
Lianné Bekker sê in reaksie op OFM Nuus se navraag sy het geen prokureursbrief ontvang nie en sal kontak maak met die prokureur. “Ek sal môreoggend uitreik na mnr. Coetzee toe en ek sal dit sommer ook op skrif stel dat ek nog nie iets ontvang het nie,” het sy Donderdag (27/3) gesê.
“Jy weet, dit is maar partykeer ’n slegte ervaring wanneer ’n mens ’n geskiedenis het en mense jou partykeer maar so klein bietjie probeer bykom (daarmee). Ek sal met jou bevestig sodra ek in ontvangs van daardie skrywe is.”
Die prokureur het egter Vrydag (28/3) bevestig dat sy wel die brief, gedateer 9 Januarie, ontvang het, waarin hy dit duidelik gestel het: “Ons doen ’n beroep op u om nie hierdie brief ligtelik op te neem nie en om binne sewe dae behoorlik aan ons kliënt se eise te voldoen.”
Die boodskap van Lianné Bekker aan die prokureur. Foto verskaf
In ’n WhatsApp wat sy na OFM Nuus aangestuur het, is die datum waarop sy die prokureursbrief ontvang het, egter duidelik 10 Januarie. Sy sê daarin aan die prokureur dat daar geen aandag gegee is aan haar pogings om te bemiddel of ’n werkbare oplossing te vind nie.
Agtergrond
’n Saak teen die voormalige Bloemfonteinse sakevrou en bedrieër Lianné Greyling (voorheen en deesdae ook Bekker) in die streekhof het in 2013 opslae gemaak toe sy joernaliste en fotograwe die hof gemaak het.
Voor haar veroordeling is haar pasgetroude man, Jean Greyling, tot vier jaar tronkstraf gevonnis vir brandstigting nadat hy hul troulokaal by Emoya Estate vernietig het toe hul bespreking gekanselleer is weens niebetaling. Sy is in daardie stadium deur 24 diefstal- en bedrogsaakbeskuldigings in die gesig gestaar wat verband gehou het met die invoer van miljoene rande se luukse voertuie en onderdele.
Tydens getuienis in ’n pleitverduideliking voor haar vonnisoplegging in 2015 het sy volgens News24 onthul hoe sy alreeds in haar matriekjaar in Kempton Park skuldig bevind is aan bedrog, waarvoor sy ’n opgeskorte vonnis opgelê is.
Sy is in April 2015 op al twaalf aanklagte van bedrog en al twaalf van diefstal skuldig bevind nadat sy aanvanklik skuld erken het. Landdros Marina Voges het Greyling destyds ’n vonnis van sewe jaar opgelê en die hof meegedeel dat sy haar noodwendig gevangenisstraf moes oplê al het sy berou betoon.
Tydens die vonnisoplegging het Voges voorts aan die hof gesê sy hoop Greyling is opreg spyt oor haar oortredings en dat sy wil verander. Sy het ook genoem dat sogenaamde witboordjiemisdaad toeneem, en sy hoop dat Greyling se vonnis ’n duidelike boodskap sal oordra dat bedrog nie beloon word nie.
Toe Greyling weggeneem is ná haar vonnisoplegging, het sy aan OFM Nuus gesê hoewel sy nie gelukkig was nie, sy wel gevoel het die vonnis was regverdig. ’n Snikkende Greyling het gesê sy sou “hierdie moeilike tyd oorleef danksy die genade van God”.
Die drie dogtertjies uit haar vorige huwelik moes by hul biologiese pa gaan woon. “Ek onthou daardie dag asof dit gister was: Ek het gewonder wat van my minderjarige kinders sou word; ek onthou hoe woedend ek vir myself was, hoe ek gewonder het of ek die tronk sou oorleef,” het sy in ’n vorige onderhoud aan Netwerk24 gesê.
Nadat sy vier jaar van haar vonnis uitgedien het, waartydens sy ook van Jean Greyling geskei is, is sy as 31-jarige op 4 Februarie 2019 op parool vrygelaat. Sy het verklaar dat sy ’n nuwe begin gemaak het danksy haar tyd agter tralies, waar sy ook ware liefde gevind het.
Die staatsaanklaer, Vic de Bruyn, het in 2015 die Bloemfonteinse streekhof probeer oortuig om haar ’n verswarende vonnis op te lê en die veroordeelde vir ’n langer tydperk tronk toe te stuur. Hy het tien tot twaalf jaar gevra. “Jy moenie net aan haar dink nie, maar ook aan haar kinders.”
Eugene Lubbe, haar destydse prokureur, het gemeld dat Greyling berou oor haar dade getoon het en sedert Junie 2014 nie weer oortree het nie. Sy sou suksesvol gerehabiliteer kon word deur toesig en motivering, het hy gemeen.