On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

Onsekerheid oor verkope van loterykaartjies, toelaes vir liefdadigheid

───   05:00 Thu, 27 Feb 2025

Onsekerheid oor verkope van loterykaartjies, toelaes vir liefdadigheid | News Article

Die besluit oor ’n nuwe lotery-operateur is tot volgende jaar uitgestel, maar Ithuba se lisensie verval in Mei.

Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, het die aankondiging van die nuwe lotery-operateur met nog twaalf maande uitgestel, die derde vertraging sedert Julie 2022.

Onsekerheid heers oor die toelaes of finansiering vir liefdadigheidsorganisasies en die verkope van loterykaartjies in Suid-Afrika deur Ithuba, aangesien dié operateur se lisensie op 31 Mei verstryk. 


Die aankondiging van ’n nuwe operateur vir die Suid-Afrikaanse lotery is met nog ’n jaar – tot 31 Mei 2026 – uitgestel terwyl geen duidelikheid bestaan oor wat gebeur met lottokaartjieverkope en toelaes ná die verstryking nie, berig GroundUp.

Tau se verklaring het geen melding gemaak van hoe verkope sal voortgaan nadat Ithuba se huidige lisensie eindig nie. Dit is die derde keer dat 'n aankondiging van die volgende lisensie-operateur uitgestel word. 

Die eerste keer was in Julie 2022, tien maande voordat Ithuba se lisensie op 31 Mei 2023 sou verval, toe dit deur oudminister Ebrahim Patel met twee jaar verleng is.

Nie genoeg tyd

’n Verklaring wat deur Tau per e-pos aan parlementslede gesirkuleer is waarin die verlenging van die “bodgeldigheidstydperk” vir die loterylisensie met ’n jaar aangekondig word, maak geen melding van wat met kaartjieverkope gaan gebeur nadat Ithuba se lisensie verstryk het nie.

Die bodbeoordelingstydperk vir 'n nuwe operateur eindig eers Mei 2026. Nuwe lisensie-operateurs kry ses maande om infrastruktuur op te rig, insluitend kaartjiemasjiene landwyd, om by die vorige operateur oor te neem voordat die posbekleër se lisensie eindig. 

Hierdie jongste uitstel beteken dat daar nie genoeg tyd sal wees vir ’n gladde oorgang nie en dit is onwaarskynlik dat Tau weer Ithuba se lisensie sal verleng.


In antwoord op ’n skriftelike parlementêre vraag van Mmusi Maimane, leier van Bosa, verlede jaar oor die verlenging van die Ithuba-kontrak deur Patel tot 31 Mei, het Tau volgenss African Insider gesê hy het die magte wat deur die Loterywet aan hom verleen is, gebruik om ’n gevestigde operateur se lisensie te verleng “vir 'n nie-hernubare tydperk van hoogstens 24 maande”.

Geen finale besluit

Die Nasionale Loterykommissie (NLK) het gebeurlikheidsplanne om te verseker dat hy tot twaalf maande kan aanhou toelaes uitbetaal, selfs al word kaartjieverkope, sy grootste bron van inkomste, opgeskort.

Die operateurslisensie, wat sowat R180 miljard werd is oor sy gewone lewensduur van vyf jaar, word na verwys as “ ’n lisensie om geld te druk”.

Ná die aankondiging van die uitstel het Tau gesê: “Ongelukkig kan ek nie in hierdie stadium ’n finale besluit te neem nie.

“Ek het sake geïdentifiseer wat verdere evaluering verg. Dit sal onvanpas wees om hierdie kwessies nou bekend te maak en die openbaarmaking daarvan kan heel moontlik die behoorlike beoordeling van die toekenning van die lisensie benadeel.

“Ek moet ook verseker dat die eienaars en bestuurders van die suksesvolle aansoekers, soos die Wet bepaal, ‘geskikte en behoorlike persone’ is. Daarbenewens moet ek verseker dat geen politieke party of politieke ampsdraer enige direkte finansiële belang in die aansoeker of ’n aandeelhouer van die aansoeker het nie.”

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.