On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Polisie waarsku oor damme, riviere ná dosyne dié feestyd verdrink

───   13:48 Thu, 23 Jan 2025

Polisie waarsku oor damme, riviere ná dosyne dié feestyd verdrink | News Article
Polisieduikers het talle liggame in riviere en damme in die feestyd uitgehaal. Foto: SAPD

Die polisie se eenheid vir waterpolisiëring en duikdienste moes die vakansieseisoen bontstaan om slagoffers uit damme en riviere te haal.

Die eenheid waarsku teen die inherente gevare van riviere en damme. “Voetgangers wat riviere wil deurkruis, moet verkieslik dit slegs by toepaslike brûe doen,” sê Grant Giblin, polisiewoordvoerder.

“’n Ongeluk kan binne ’n oogwink gebeur wanneer ’n slagoffer deur ’n vinnige stroom meegesleur word. Mense wat betrokke is by dooprituele in riviere, moet ook bewus wees van gepaardgaande risiko’s, naamlik besoedeling met riool en chemikalieë wat gesondheidsgevare inhou.”

‘Durf wateraktiwiteite liefs aan met reddingsbaadjie’

“Voorsorgmaatreëls is belangrik om lewensverlies te voorkom. Mense wat damme en riviere aandurf vir enige aktiwiteit, word aangeraai om dit met ’n reddingsbaadjie te doen. Ouers van jong kinders naby oop waters moet hulle opvoed oor die gepaardgaande gevare en deurlopend toesig hou.”

Giblin sê ooggetuies van waterverwante voorvalle kan die polisie se soek- en-reddingspogings aansienlik help deur bakens te verskaf om liggings te bepaal.

Intussen word hengelaars daaraan herinner dat visvang met nette onwettig is. Oortreders sal vervolg word.

Polisieduikers het verskeie liggame uit damme en rivier gehaal. Foto: SAPD

Net in Gauteng het die polisie van begin Desember tot 19 Januarie altesame 28 liggame uit riviere en damme gehaal, waaronder die Vaaldam en -rivier, die Kliprivier, Spaarwaterdam en Hennopsrivier. In twee gevalle is voertuie wat in die water beland het, uitgehaal.

Die polisie het 17 vaartuigpatrollies uitgevoer, 193 oordbesoeke aangeteken en 196 vaartuigkontroles uitgevoer. Beamptes het beslag gelê op honderde meters onwettige visnette.

“Elke Desember word beamptes daaglikse ontplooi by die Bronkhorstspruitdam, Roodeplaatdam sowel as die Vaaldam en -rivier terwyl hulle op bystand is vir enige voorvalle wat mag voorkom,” sê Giblin. “Hulle verpligtinge duur voort dwarsdeur die feestyd en tot in die nuwe jaar om wetteloosheid te voorkom.”

Een van die honde wat in ’n soektog gebruik is. Foto: SAPD

Die waterpolisie werk saam met die honde-eenheid, lug- en hommeltuigeenheid en ander nooddienste om slagoffers by te staan. Soektogte word op verskeie maniere uitgevoer, insluitend in die lug, met kano’s, bote, deur te duik of te voet.

Ander noemenswaardige voorvalle was moordslagoffers wie se liggame in riviere en damme gevind is, vermeende onwettige vissers wat verdrink het, slagoffers en voertuie wat van laagwaterbrûe afgespoel is en slagoffers wat in riviere gespeel en deur sterk strome meegesleur is.

Gevalle is ook aangemeld van haweloses wat in stormwaterafvoerpype woon wat verdrink het en werkers wat ingeval en verdrink het terwyl hulle swembaddens skoongemaak het.

Geregtelike doodsondersoeke vir hierdie voorvalle word ondersoek. Mense met inligting word aangemoedig om hul naaste polisiekantoor te kontak of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.