South Africa
Regering verleng 67 000 gemeenskapswerkers se kontrakte─── 10:45 Wed, 22 Jan 2025
Suid-Afrikaners van 55 jaar en ouer kan nog tot einde Maart baat vind by die regering se gemeenskapswerkprogram, nadat dit aanvanklik in Januarie sou eindig.
Die program verskaf werk aan 255 000 mense, van wie sowat 67 000 ouer as 55 is.
Velenkosini Hlabisa, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het intussen aangekondig dat dié werkers se kontrak met twee maande verleng sal word om die regering kans te gun om ander oplossings te verken.
Die departement het verlede jaar aangekondig dat die kontrakte van gemeenskapwerkers bo 60, wat ook ouderdomtoelae ontvang, wel beëindig word.
Die regering se program verskaf werk aan 255 000 mense, van wie sowat 67 000 ouer as 55 is. Foto: Facebook/Departement van samewerkende regering en tradisionele sake
Die gemeenskapswerkprogram is ’n regeringsprojek wat ’n werksveiligheidsnet aan werkloses bied. Dit is deel van die indiensnemingstimuluspakket wat pres. Cyril Ramaphosa in April 2020 tydens die Covid-19-pandemie aangekondig het om die arbeidsmark te help herstel, werk te skep en vaardighede op te skerp.
Die begroting was aanvanklik R100 miljard, maar dit is intussen drasties tot R3,5 miljard besnoei, berig News24.
‘Hierdie besluit het tot landswye protesoptredes gelei’
Hlabisa sê begrotingsbesnoeiings deur die Nasionale Tesourie vir die 2024/2025-boekjaar het die besluit genoodsaak om die kontrakte van begunstigdes van bo 55 jaar te beëindig. Hierdie besluit het tot landswye protesoptredes gelei waartydens begunstigdes hul vrees uitgespreek het dat hulle hul enigste inkomstebron kan verloor en nie meer hul gesin sal kan onderhou nie.
Die beweging Save South Africa het die besluit as “irrasioneel, onverantwoordelik en onmenslik” gekritiseer, berig Daily Sun.
Ná oorlegpleging met Enoch Godongwana, minister van finansies, het Hlabisa aangekondig die kontrakte word tot einde Maart verleng terwyl die departement “lewensvatbare en volhoubare oplossings” ondersoek.
‘Saftu en Cosatu bestempel die besluit as ’n wrede daad’
Die gemeenskapswerkprogram is in 2008 gestig om werkservaring en vaardighede aan deelnemers daaraan te bied deur projekte soos die herstel van infrastruktuur, waaronder parke, skole en paaie.
Vakbonde en politieke organisasies het die aanvanklike besluit om kontrakte te beëindig sterk gekritiseer. Die vakverbonde Saftu en Cosatu bestempel die besluit as “’n wrede daad wat begunstigdes in armoede sal dompel”.
Hlabisa sê egter die regering bly verbind daartoe om die werkprogram te behou. “Ons doel is om ’n noukeurige balans tussen finansiële en maatskaplike verantwoordbaarheid te verseker.”