On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Neem besluite oor skole ‘waar damwal en baber’ ontmoet – Free SA

───   MORNÉ VAN ROOYEN 12:42 Thu, 23 Jan 2025

Neem besluite oor skole ‘waar damwal en baber’ ontmoet – Free SA | News Article
Talle organisasies het verlede jaar teen die Bela-wet betoog. Foto: Facebook/Kaapse Forum

Besluite oor skole moenie op die hoogste vlak geneem word nie, maar op die laagste vlak, daar waar die damwal en die baber bymekaarkom.

Paul Maritz van die Foundation for Rights of Expression and Equality (Free SA) sê in enige land moet sekere besluite “van bo” gereguleer word. “Jy weet ons moet seker maak dat daar ’n bepaalde standaard is, dat daar ’n oorhoofse, goeie standaard is. 

“Dit is nie goed vir Suid-Afrika as een skool wonderlik is, en om die hoek het jy ’n skool uitmekaar uit val nie. Daar is sekere goed wat sentraal gereguleer moet word. Dit verstaan ’n mens; dis logies.”

Pres. Cyril Ramaphosa onderteen die Bela-wet. Foto: GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het op 20 Desember bekendgemaak die hele Bela-wet, waaronder klousules oor taal- en toelatingsbeleid – word in werking gestel nadat lede van die regering van nasionale eenheid se geskilbeslegtingsmeganisme ingestem dat die wet ten volle in werking gestel word.

Hy het in September die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette onderteken, maar weens teenkanting ingestem dat klousules 4 en 5 vir drie maande agterweë gehou word terwyl voorstelle ingewin word oor hoe die verskillende sienings in ag geneem kon word.

Maritz sê selfs in die mees federale regerings ter wêreld soos Switserland en die VSA, moontlik nie ’n ideale voorbeeld nie, moet sekere besluite sentraal geneem word. “Maar alles wat net te doen het met daai plaaslike gemeenskap … met daai skool, moet natuurlik nie op die hoogste vlak geneem word nie, maar op die laagste vlak.”

Paul Maritz van Free SA. Foto verskaf

Hy verduidelik dit aan die hand van hengelbeeldspraak. “Die eenvoudige punt is dat wanneer jy ’n baber wil vang, wil jy natuurlik so naby as moontlik aan die bodem kom. Jy wil seker maak jy’t ’n lekker sinker sodat jou aas heel onder op die grond gaan lê, want dis waar die baber is.”

Dieselfde beginsel geld wat skole betref, meen Maritz. “Jy wil so na as moontlik aan grondvlak kom wanneer besluite geneem word. Wie’s die beste persoon wat ’n besluit kan neem oor ’n hoërskool se begroting? Ek sou sê die skoolhoof en die hoof van die beheerliggaam.”

Dit is omdat dié mense deel is van die gemeenskap en vertroud is met die plaaslike omstandighede en uitdagings. “Hoe gaan iemand in Pretoria weet wat in die Karoo aangaan; wat teen die Limpoporivier aangaan? Dis nie net realisties moontlik nie.”


Ongelukkig laat die Bela-wet die besluitneming oor aan iemand wat ver van die gemeenskap verwyder is en ’n abstrakte besluit neem, waarsku Maritz. “Die realiteit van die saak is, hoe nader jy aan die grond kom, hoe groter is die waarskynlikheid dat die besluit ’n akkurate en ’n goeie een gaan wees.” 

Hy meen die grootste probleem met die Bela-wet is nie wat dit direk probeer bereik nie, maar wat dit indirek moontlik maak. 

“Vir my gaan dit uiteindelik daaroor dat mag gesentraliseer word. Wat dit beteken, is uiteindelik vat jy die mag weg van die persone (die hoof van die beheerliggaam, die skoolhoof, ens.) wat dit behoort te hê.”

Die mag word gesentraliseer na boontoe, waar iemand van ver af “uit ’n abstrakte hoek en tien teen een ’n ideologiese hoek moet besluit wat die beste gaan wees vir jou skool op grondvlak”, terwyl besluite wat daar geneem word, eintlik die beste vir die skoolgemeenskap sal wees.  

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys. Foto verskaf

Maritz meen die Bela-wet kan aan die hand van twee vrae beoordeel word, waarvan die eerste die uil se vraag is, na aanleiding van die hoe-hoe-geluid wat hy maak. “Die punt vir my is maar net ons moet vir onsself vra: Hóé gaan dit geïmplementeer word?

“Soos wat ons geleer het in Suid-Afrika oor die afgelope 31 jaar, is dit wat op papier staan en dit wat uiteindelik uitgevoer word, dikwels nie dieselfde ding nie, want die persoon wat die wet interpreteer of die liggaam wat die wet interpreteer, kan goed daarin lees of daaruit lees afhangend van wat hulle spesifiek sou wou.” 

Die belangrike vraag is dan hóé ’n wet, soos Bela, toegepas gaan word. “Hoe gaan ons hierdie nuwe manier van dink oor beheerliggame implementeer en, soos ek reeds genoem het, ek dink dis waar daar heelwat risiko vir ons lê.”

Jakkals se vraag

Die tweede vraag is “jakkals se vraag”. Watter ruimte skep die Bela-wet vir skelmstreke om in te kruip en agter die regulasies weg te kruip. “’n Mens wil natuurlik vir iemand die voordeel van die twyfel gee,” sê Maritz, “maar die realiteit is, die persone agter die Bela-wet het ’n bepaalde ideologiese inslag.

“As ’n mens kyk na die ANC se ideologiese dokumente van die laat tagtigs af en die benadering tot onderwys wat ons tipies onder Kadar Asmal al gesien het … dan weet ons dat daar ’n gedagte van sentralisering is … dat jy baie makliker van bo af besluite kan neem en dit eenvoudig na onder toe kan afdwing wanneer daar nie weerstand is nie.”

Hy sê dis gewoonlik beheerliggame wat weerstand bied; daarom dat die regering hulle van hul magte wil ontneem. “Dis wat ek bedoel wanneer ek sê skelm streke, bedoelende dat jy uiteindelik nie noodwendig sê wat jy eintlik wil regkry nie.”

Beheerlliggaam kan beste besluite neem

Al is Siviwe Gwarube, minister van onderwys, volgens Maritz in ’n hoek gedruk, kan sy en haar administrasie die skadelikste dele van die Bella wet met slim regulasies versag. Free SA het aan haar voorgestel die mag nie heeltemal van die beheerliggaam weggevat word nie.

“Inteendeel, dat jy daai beheerliggaam soveel as moontlik beskerm omdat jy verstaan dat hulle juis die persone is wat reg is om die besluit te maak en wat die meeste inligting en die mees akkurate, mees onlangse inligting het.”

’n Beheerliggaam kan byvoorbeeld steeds die skool se beleid opstel, wat die hoof van die provinsiale onderwysdepartement kan goedkeur, “maar dat regulasies nie van bo af ondertoe gaan nie”. 

Elke skool se omstandighede verskil; daarom kan sentrale besluite nie op hulle afgedewing word nie, meen Free SA. Foto verskaf

Free SA meen ook beheerliggame moet toegelaat word om steeds te werk soos nou die geval is, solank hulle nie Grondwet oortree nie. 

“Wat ons betref, is dit eintlik ’n heel logiese ding om te sê: Laat hulle steeds besluite op grondvlak neem en dit dan so geïmplementeer word dat van die departement se kant af eenvoudig net seker gemaak dit is in lyn met die Grondwet.”

So word die mag op grondvlak behou, sê Maritz. “Sodoende wentel ons mag af na ondertoe, of los ons dit waar dit eintlik maar net logies moes gewees het.”

OFM Nuus/Morné van Rooyen mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.