South Africa
Polisie waarsku oor damme, riviere ná dosyne feestyd-verdrinkings─── 13:48 Thu, 23 Jan 2025
Die polisie se eenheid vir waterpolisiëring en duikdienste het die afgelope vakansieseisoen bont gestaan om slagoffers uit damme en riviere te haal. Die eenheid waarsku teen die inherente gevare van riviere en damme.
“Voetgangers wat riviere wil deurkruis, moet verkieslik dit slegs by toepaslike brûe doen. ’n Ongeluk kan binne ’n oogwink gebeur wanneer ’n slagoffer deur ’n vinnige stroom meegesleur word. Mense wat betrokke is by dooprituele in riviere moet ook bewus wees van gepaardgaande risiko's, naamlik besoedeling met riool en chemikalieë wat gesondheidsgevare inhou,” sê Grant Giblin, polisiewoordvoerder.
“Voorsorgmaatreëls is belangrik om lewensverlies te voorkom. Mense wat damme en riviere aandurf vir enige aktiwiteit, word aangeraai om dit met 'n reddingsbaadjie te doen. Ouers van jong kinders naby oop waters moet hulle opvoed oor die gepaardgaande gevare en deurlopend toesig hou.”
Polisieduikers en hul snuffelhond op soek na liggame in damme. Foto: SAPD
Giblin sê ooggetuies van waterverwante voorvalle kan die polisie se soek- en reddingspogings aansienlik help deur landmerke te verskaf om liggings te bepaal. “Mense word daaraan herinner dat visvang met nette onwettig is en oortreders sal vervolg word.”
Net in Gauteng alleen het die polisie sedert die begin van Desember 2024 tot 19 Januarie 2025 altesame 28 liggame uit rivier en damme gehaal, waaronder die Vaaldam en -rivier, die Kliprivier, Spaarwaterdam en Hennopsrivier. In twee gevalle is voertuie wat in die water beland het, ook uitgehaal.
Die polisie het daarby ook 17 vaartuigpatrollies uitgevoer, 193 oordbesoeke aangeteken en 196 vaartuigkontroles uitgevoer. Honderde meters onwettige visnette is ook gekonfiskeer.
Een van die bote wat uit ’n rivier gehaal is. Foto: SAPD
“Elke Desember word lede op 'n daaglikse basis by die Bronkhorstspruitdam, Roodeplaatdam sowel as Vaaldam en -rivier ontplooi terwyl hulle op bystand is vir enige voorvalle wat mag voorkom. Hul verpligtinge duur voort dwarsdeur die feestyd en tot in die nuwe jaar om wetteloosheid te voorkom.”
Die waterpolisie werk saam met die honde-eenheid, lug- en hommeltuigeenheid en ander nooddienste om slagoffers by te staan. Soektogte word op verskeie maniere uitgevoer, insluitend lug, kano, boot, duik en te voet.
Ander noemenswaardige voorvalle wat plaasgevind het, was moordslagoffers wie se liggame in riviere en damme gevind is, beweerde onwettige vissermanne wat verdrink het, slagoffers en voertuie wat van laagwaterbrûe afgespoel is, slagoffers wat in riviere gespeel en deur sterk strome meegesleur is, hawelose mense wat in stormwaterdreine woon wat verdrink het en werkers wat ingeval en verdrink het terwyl hulle swembaddens skoon gemaak het.
Geregtelike doodsondersoeke vir hierdie voorvalle word nog ondersoek. Enigeen met meer inligting kan hul naaste polisiekantoor kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 bel.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg