South Africa
Pa, dogter probeer Kaapse drenkeling vergeefs red─── 15:15 Thu, 02 Jan 2025
Die NSRI soek steeds na ’n man van Papendorp aan die Kaapse Weskus wat blykbaar in die see verdrink het.
Die polisie het die seereddingsinstituut Woensdagmiddag (1/1) ontbied na die mond van die Olifantsrivier by Papendorp, sowat 150 km noord van Saldanhabaai, waarna hul reddingstuig JetRib te water gelaat is, sê Tania Fouché, NSRI Strandfontein se stasiebevelvoerder.
’n Uitgebreide soektog tot sonsondergang na die plaaslike man (32) het niks opgelewer nie. Polisieduikers en die watervleuel help ook steeds soek.
Moedige poging
Vroeër die middag het ’n pa en dogter moedig probeer om ’n drenkeling se lewe te red in die see noord van Tafelbaai.
Bemanningslede van NSRI Melkbosstrand en die Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk het omstreeks 12:30 ingegryp nadat inligting ontvang is van ’n verdrinking by Table View, sê Hein Köhne, NSRI Melkbosstrand se stasiebevelvoerder.
Onder andere die seereddingsinstituut se reddingswemmers, plaaslike lewensredders, Kaapstadse wetstoepassers, die polisie, ER24-ambulansdiens, die brandweer en Kaapstad se ramprisikobestuur het gereageer.
Die NSRI laat sy reddingstuig te water wanneer iemand in nood verkeer. Argieffoto: NSRI
’n Opblaasboot en die plaaslike NSRI se JetRib-reddingstuig is te water gelaat, sê Köhne, nadat omstanders op die strand berig het ’n pa en sy dogter het die drenkeling bereik met ’n NSRI-reddingsboei in die brandersone, die smal strook aan die kus tussen die strand en die omgewing waar die branders breek.
Die barmhartige samaritane het uitgeswem na die man (46), van Philippi op die Kaapse Vlakte, en hom bo die water gehou met behulp van die pienk reddingsboei. Hy is blykbaar meegesleur deur ’n sterk seestroom.
Die pa het opleiding in lewensredding en sy dogter is ’n voormalige lewensredder. Albei woon in die omgewing.
Table View is gewild onder stappers, swemmers en branderplankryers. Foto: Facebook/The Bearded Gin Guy
Nadat die lewensredders tot by die drie mense in die see gevaar het, het hulle die drenkeling aan boord geneem, maar hy het geen reaksie getoon nie. Op die strand het paramedici kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toegepas, terwyl die lewensredders teruggevaar het om die pa en sy dogter na veiligheid te bring.
Ten spyte van die paramedici se volgehoue KPR-pogings en alle ander pogings om die man by te bring, is hy dood verklaar, sê Köhne. Hy bedank die barmhartige samaritane vir hul moedige reddingspoging.
Onder die invloed
Op Kersdag (25/12) het ’n man (36) by Vishoek aan Kaapstad se Valsbaaikus verdrink, sê Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder.
Lewensredders van die Stad Kaapstad het alarm gemaak, waarna paramedici vergeefs probeer het om die man, wat onder die water verdwyn het nadat hy by Jager’s Walk ingeduik het, se lewe met KPR te red. Hy was na bewering onder die invloed van drank toe hy in die vlak water ingeduik het.