On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

Tienerverdagte in aanhouding ná moord op Baaise polisieman

───   MORNÉ VAN ROOYEN 12:25 Wed, 08 Jan 2025

Tienerverdagte in aanhouding ná moord op Baaise polisieman | News Article
Konst. Callan Andrews is vermoor nadat hy slegs twee maande in die polisiediens was. Foto: Facebook/Callan John Andrews

Die jeugdige verdagte in die moord op ’n Baaise polisieman kom weer oor twee weke voor in die plaaslike kinderhof.

Die 17-jarige het sy borgaansoek laat vaar tydens sy eerste verskyning Maandag (6/1), toe die saak tot Dinsdag uitgestel is vir assessering en verdere ondersoek. Aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie staar hom in die gesig, sê Luxolo Tyali, Oos-Kaapse NVG-woordvoerder.

Tydens sy tweede hofverskyning in die Nerina-kinderhof is die saak met twee weke uitgestel vir verdere ondersoek. Die beskuldigde kan moontlik in die John X Merriman-kinder-en-jeugsentrum geplaas word.

Konst. Callan Andrews het eers ’n graad in sielkunde aan die Nelson Mandela-universiteit voltooi voordat hy in Oktober by die polisie aangesluit het.

Die jong inwoner van Gelvandale in Gqeberha se misdaadgeteisterde noordelike gebiede word daarvan beskuldig dat hy konst. Callan Andrews (29) op Oujaarsdag in Voisinweg, Helenvale, met sy eie dienspistool doodgeskiet het, sê Tyali.

Andrews en sy kollega het op ’n klagte gereageer toe hul polisievoertuig blykbaar onklaar raak. Hy en inwoners het die voertuig gestoot om dit weer aan die gang te kry, toe die tiener glo sy dienspistool gryp en hom skiet. Hy is na die naaste hospitaal geneem, waar hy met aankoms dood verklaar is.

Die Valke het die jong verdagte en ’n vermeende makker (18) Saterdag in hegtenis geneem, maar die 18-jarige is vrygelaat voordat hy ook Maandag in die hof kon verskyn het omdat hy nie positief met Andrews se moord verbind kan word nie.

Konst. Callan Andrews is in Oktober by die Mountweg-polisiekantoor gestasioneer, maar wou sy eerste ses maande in die Gelvandale-polisiekantoor deurbring om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Foto: Facebook

Die polisie het Maandag gesê hulle verwag om binnekort nog ’n verdagte in hegtenis te neem in verband met die moord op die konstabel van die Gelvandale-polisiekantoor.

“Die NVG is daartoe verbind om toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê Tyali, “en sal onvermoeid met die Valke saamwerk om diegene aan die man te bring wat vir Andrews se moord verantwoordelik is.”

Inwoners het blou ballonne vrygelaat tydens die betoging vir geregtigheid Sondag. Foto: Facebook/Felicia R Denston

Inwoners van Gelvandale het Sondag vreedsaam teen die moord op Andrews betoog in ’n optog van die polisiekantoor waar hy gestasioneer was, na die moordtoneel waar hulle blou ballonne vrygelaat het. Op sosiale media eis gebruikers #JusticeForCallan.

Rumain Riri Jantjies, wat ’n kinderorganisasie in dié misdaadgeteisterde gemeenskap ná drie jaar moes sluit weens bendegeweld, sê op Facebook: “Hierdie jong man se hele lewe het nog voorgelê, dat hy daarvan beroof is, is hartseer.”

Inwoners het Sondag vreedsaam betoog vir geregtigheid in die moord op konst. Callan Andrews. Foto: Facebook/Tarryn Kim Williams

Sy sê bendes verhoed dat sy die kinders kan voed of speelafsprake met hulle in die strate van Katanga kan hê. “Ons kinders kan nie eens vreedsaam in die straat speel of laat buite wees nie weens die gangsters. Dit breek my hart dat ek nie kan help nie.”

Jantjies sê ten spyte van inwoners se pogings versleg die situasie net ál meer. “Die mense in ons buurt is te bang om saam te staan en teen die gangsters te betoog. Dit kon jy, jou kind of man, familie gewees het wat daar lê, en tog is julle te bang om julle stem dik te maak.”

Sy vra die polisie moet ’n voertuig op elke straathoek van hul buurt ontplooi. “Ons voel onveilig hier. Ons polisie moet ’n einde hieraan bring.”

OFM Nuus/Morné van Rooyen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.