On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

South Africa

Regstappe kom teen oproerige passasier op vlug na Kaapstad

───   KAREN VAN DER BERG 13:14 Tue, 31 Dec 2024

Regstappe kom teen oproerige passasier op vlug na Kaapstad | News Article
Nobuntu Mkhize. Foto: Facebook

Die vrou wat oproerig was op ’n FlySafair-vlug omdat die kajuitbemanning blykbaar nie drank aan haar wou bedien nie, gaan die nuwe jaar in met verskeie misdadige aanklagte teen haar.

Nobuntu Mkhize (43) was op Donderdag (26/12) op ’n vlug tussen Durban na Kaapstad. Op talle video’s wat van haar oproerigheid en onderonsies met die bemanning op sosiale media geplaas is, kan gehoor word hoe sy vir ’n lugwaardin, Emmeridge September, sê: “Jy is ’n kleurling van Mitchells Plain. Al daardie goue ringe, maar geen graad nie. Wanneer ons land, gaan ek ’n Uber huis toe haal. Jy het nie eens ’n lisensie nie. Jy het nie eers ’n kar nie.?”

Nobuntu Mkhize tydens die vlug. Foto skermgreep

Voorts kan ook gehoor word hoe Mkhize sê sy is ’n lid van die ANC en hoe sy mense op die vlug vra of hulle weet wie haar pa is. Sy het ook ’n bemanningslid met ’n koeldrankblikkie gegooi wat oor ’n groot aantal passasiers gespat het.

Tertuis Simmers, Wes-Kaapse DA-leier, sê sy party het September Maandag (30/12) bygestaan om ’n klag van crimen injuria by die polisie in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte aanhangig te maak.

Emmeridge September saam met Marvin Johnson van Mitchells Plain by die polisiekantoor. Foto: Facebook

“Die DA se bystand en vinnige optrede tot hierdie saak wys duidelik dat rassisme nie plek het of verdra word nie. Ons glo in ’n samelewing waar rassisme nie bestaan nie en waar mense kan floreer sonder om aan rassisme, geweld, haat of vooroordeel blootgestel te word.”

Hy sê hulle staan September by en enige ander individue wat deur rassisme geraak word. Hulle wou aanvanklik net ’n klag van crimen injuria aanhangig maak. “Nadat hulle haar verklaring geneem het, het hulle ook besluit om aanranding tot die klag by te voeg.”

Die DA ondersteun Emmeridge September ná die voorval. Foto: Facebook

Netwerk24 berig Mkhize is ’n handelsmerkbestuurder by die SAUK.

Die SAUK het in ’n verklaring op X gesê hulle veroordeel die optrede van Mkhize. “Die SAUK sal toepaslike kanale in ooreenstemming met sy interne prosedures gebruik om met die personeellid in gesprek te tree.”

Die uitsaaier het ook in die verklaring beklemtoon dat hy deur die redaksionele kode gelei word en sy redaksionele onafhanklikheid handhaaf. “Besluite rakende nuus word in die nuuskantoor geneem en word nie deur nieredaksionele personeel beïnvloed nie.”

Mkhize is in hegtenis geneem en aanvanklik aangekla weens oproerige gedrag op ’n vliegtuig. Die saak is voorlopig teruggetrek, maar word nog ondersoek. Ander klagtes kan nog bygevoeg word.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.