On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Bejaarde verjaag inbreker met plastiekpyp

───   11:50 Tue, 07 Jan 2025

Bejaarde verjaag inbreker met plastiekpyp | News Article
Rusa-beamptes kom op die toneel van die gefnuikte inbraak byeen. Foto: Rusa

’n Vermeende gewoonte-misdadiger van KwaZulu-Natal is steeds op vrye voet nadat ’n dapper inwoner hom verjaag het toe hy na bewering weer probeer inbreek het.

Bure van die bejaarde inwoner van Verulam het beamptes van Reaction Unit South Africa (Rusa), ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy, ontbied na Marulasirkel, Trenance Park, om die man te kom help, berig Arrive Alive. Hy het die voornemende inbreker te lyf gegaan toe hy by sy eiendom probeer inkom het.

Toe reaksie- en polisiebeamptes op die toneel aankom, het die inwoner hulle vertel dat ’n inbreker, wat alleen te werk gegaan het, toegang tot sy erf probeer verkry het.

Die voornemende inbreker het in digte bosse agter die eiendom weggeraak. Foto ter illustrasie: Rusa

Hy erken hy het die verdagte met ’n plastiekpyp bygedam terwyl dié oor ’n draadheining probeer klim het. Die voornemende inbreker het die aftog geblaas en in digte bosse agter die eiendom in gevlug.

Die verdagte word blykbaar gesoek in verband met ’n vlaag inbrake in die omgewing, onder meer een waartydens hy ’n 84-jarige in haar huis oorval en ’n TV gesteel het.

‘Ons moet terugbaklei’

“Ek sien dieselfde polisievoertuig dag en nag die rondtes doen en die afgelope weke (het hulle) vinnig reageer,” skryf Aveen Moodley op Facebook in reaksie op die voorval. “Daar is ’n paar goeie beamptes hier in Verulam; geen kommentaar oor die res nie.”

Sharon Marimuthoo meen genoeg is genoeg. “Ja, dis hoog tyd dat ons terugbaklei,” skryf sy op Facebook.

Selfverdediging het perke

Suid-Afrikaners mag hulself kragtens die Strafproseswet verdedig. Dit staan bekend as “privaat verdediging”, berig East Coast Radio.

Daar is drie hoofvereistes wat jy moet bewys sodat dit as wettig beskou kan word:

  • Hulle het dit begin: Die aanval moet onwettig wees en óf nou plaasvind, óf op die punt staan om plaas te vind.
  • Verdedig, maar speel skoon: Jou selfverdediging moet direk op die aanvaller gerig wees en mag nie onskuldige omstanders raak nie.
  • Regte hulpmiddel vir die situasie: Die manier waarop jy jouself verdedig, moet redelik wees vir die situasie. Byvoorbeeld, pepersproei vir ’n rower, nie ’n masjiengeweer nie.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.