On Now
Weekends 19:00 - 20:00
Nuut in Afrikaans Nadine
NEXT: 20:00 - 22:00 Sunday Night with Nadine
Listen Live Streams

South Africa

Stilfontein: Veroordeelde zama-zamas se deportasies word verwerk

───   KEKELETSO MOSEBETSI 12:00 Sun, 15 Dec 2024

Stilfontein: Veroordeelde zama-zamas se deportasies word verwerk  | News Article
Die zama-zamas sal binnekort gedeporteer word. Foto: Skermgreep

Die 19 zama-zamas wat verlede maand in Stilfontein in hegtenis geneem is, sal gedeporteer word. Hulle is Woensdag (11/12) in die Stilfonteinse landdroshof gevonnis.

Die groep wat bestaan uit 14 burgers van Lesotho, vier van Mosambiek en een van Zimbabwe is tussen 20 en 40 jaar oud. Hulle is skuldig bevind op aanklagte van onwettige mynaktiwiteite en oortredings wat verband hou met immigrasie.

Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê elkeen is tot 24 maande tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hulle nie weer die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne van 2002 in dié tydperk oortree nie. 

Hulle is ook ses maande tronkstraf opgelê of beboet met R6 000 vir die oortreding van die Immigrasiewet.


Die zama-zamas is verlede maand by die Margaret-skag in Stilfontein in hegtenis geneem. Operasie Vala Umgodi (maak toe die gat) se doel is om onwettige mynaktiwiteite in Noordwes te bekamp. 

Mokgwabone beklemtoon die operasie se doel is om orde in die myngebiede te herstel. Die departement van binnelandse sake is besig om die zama-zamas se deportasies te verwerk. 

Van hulle beweer hulle is teen hul wil ondergronds aangehou.

Genl. Fannie Masemola, polisiekommissaris, het met sy onlangse besoek aan die toneel sy kommer uitgespreek oor die hoeveelheid voorraad wat aan hulle ondergronds verskaf word. Hy sê dit kan die zama-zamas in staat stel om vir tot ’n jaar ondergronds te bly. 

Gemeenskapsaktiviste en organisasies het egter hulle daartoe verbind om te verseker dat hulle veilig na die oppervlak sal kom. Johannes Qankase, een van die gemeenskapsaktiviste, het dit duidelik gemaak terwyl die gemeenskap bereid is om die zama-zamas te help sal hulle nie buitensporige eise  toelaat nie. 

Dit volg nadat hulle briewe van die ander zama-zamas ondergronds gekry het wat vra vir kos, toiletware, tabak en tamatiesous. Die hulp wat oor die afgelope twee maande verleen is, was bedoel om hulle tydelik te help om hul kragte op te bou nie om hulle ondergronds te hou nie.  

Die regering en polisie is deur die gemeenskap gekritiseer omdat hulle nie genoeg doen om hulle te help om die zama-zamas uit te kry nie.

OFM News/Kekeletso Mosebetsi dg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.