On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

Bloemfonteinse Geloftefees wil band tussen geskiedenis en toekoms uitlig

───   ELSABÉ DE JAGER 06:30 Fri, 13 Dec 2024

Bloemfonteinse Geloftefees wil band tussen geskiedenis en toekoms uitlig | News Article
Vir Hannes Noëth is die bewusmaking van die verlede en toekoms onder die jeug ’n daad van geloofsonderrig. Foto: Facebook

“Ek hou daarvan om te sê die viering van Geloftedag is ’n ‘erevoorreg’, wat ons as nageslag het om saam te kom, terug te kyk, hoop te skep en vorentoe te bou.”

Hannes Noëth, skrywer en uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, gesels met geesdrif oor die blywende relevansie van Geloftedagviering. “Mens blý verbind aan nie net jou voorgeslagte nie, maar ook aan jou nageslagte, aan jou geskiedenis en ook jou toekoms.”

Dit is dan ook Noëth as gasspreker se tema tydens vanjaar se Geloftedagviering op Maandag 16 Desember op die Bergkraal-feesterrein buite Bloemfontein, waar hy veral aan die jeug ’n boodskap wil uitdra oor die voorreg om nie net terug te kyk op die geskiedenispad nie, maar ook voort te bou.

Op die vraag oor hoe kinders aangespoor kan word om steeds die dag te gedenk, sê dié pa van vier: “Ons moet hulle gewoon leer. Dit hoef nie vir hulle ’n lekker Geloftedag te wees nie. Ons hoef nie vir hulle te vermaak nie.

“Ons moet hulle gewoon vertel, die geskiedenis vertel. Ons moet vir hulle vertel wat hulle plek in hierdie land is. Ons moet hulle oortuig van roeping en daarom is die viering van Geloftedag van begin tot einde ook so bietjie geloofsoordrag.

“Dis geloofsonderrig en dis ook historiese onderrig. En daai geloofs- en historiese onderrig trek kinders outomaties in. Ek sê altyd, die hele ding van Geloftedag is dit verbind gesinne aan mekaar en binne gesinne verbind ons ’n gemeenskap en binne ’n gemeenskap onthou ons en ons bou. En hoe gaan ons ons jongmense intrek? Ons gaan vir hulle leer.”

Vir diegene wat nie die Geloftedagvieringe by die Voortrekkermonument (soos hier in 2023) kan bywoon nie, word feeste landwyd gereël. Foto: Facebook/Danie Langner

Die verrigtinge begin reeds op Sondag (15/12) met ’n kamp, sê ds. Jacques Else, predikant van die NG Gemeente Estoire en organiseerder van dié viering. Dit is ’n beperkte getal belangstellendes wat die geleentheid het om saam te kuier voordat die res van die feesgangers die volgende dag by hulle aansluit.

“Op Maandag begin ons reeds vroeg met beskuit en koffie. Dit word gevolg deur ’n biduur en samesang en dan ds. Hannes wat ’n historiese vertelling sal behartig. Woordbediening deur ds. Marthiens Heymans sal daarna plaasvind.”

Sedert die veldslag van 16 Desember 1838 te Bloedrivier, tussen die Voortrekkers en die Zoeloemagte, is dié dag gedenk as deel van die belofte in die Gelofte. Hoewel dit sedert 1994 Versoeningsdag heet, vier heelparty Afrikaners dit steeds as Geloftedag.

Noëth sê dit is belangrik om aan die jeug oor te dra dat dit ’n voorreg is om nie net te onthou nie maar ook om te bou. Vir hom speel die rol van Geloftedagviering ’n belangrike rol in dié bewusmaking. “Ons inspireer die kinders om hulle eenvoudig hiervan te leer. Ons moet vir hulle vertel wat hul plek in hierdie land is.”

Rig navrae oor die herdenking aan Jacques Else by 082 557 2680 en Marthiens Heymans by 072 934 9135. Die Bergkraal-feesterrein is geleë in die omgewing van Verkeerdevlei en Maselspoort.

Besoek die FAK se webtuiste vir ’n volledige lys Geloftefeeste landwyd.

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.