On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

South Africa

Petrolprys daal, maar vir diesel gaan jy meer betaal

───   08:45 Sat, 30 Nov 2024

Petrolprys daal, maar vir diesel gaan jy meer betaal | News Article
Die brandstofpryse sal volgende week bekend gemaak word. Foto: AlgoaFM

Die prys van petrol blyk op koers om in Desember met ‘n paar sent per liter te daal.

’n Soortgelyke meevaller is dieselverbruikers egter nie beskore nie. News24 berig die jongste raming van die Sentrale Energiefonds voorsien ’n daling van 5c per liter vir 95-oktaan-petrol. In skrille kontras kan die groothandeldieselprys met tot 40c per liter styg.

Die bepaling van Suid-Afrikaanse brandstofpryse word grootliks beïnvloed deur die wêreld-olieprys en die rand-dollar-wisselkoers. 

Kommer heers oor China se vraag na olie wat al minder raak. China is die wêreld se tweede grootste ruolieaankoper wat beteken enige fluktuasie in sy olieaankope kan ’n beduidende invloed op internasionale oliepryse hê.

Die Internasionale Energieagentskap voorsien wêreldolievoorraad in 2025 sal die vraag na Brentruolie met meer as 1 miljoen vate oorskry. Volgens Reuters verteenwoordig dit 1% van die wêreld se totale ruolie-lewering.

Dollar bly gewoonlik ’n veilige beleggingshawe

Beleggers glo die beleid van pres. Donald Trump van Amerika sal positief vir die waarde van die dollar wees. Invoertariewe en groot belastingverlagings sal inflasie aanwakker. Dit sal hoër Amerikaanse rentekoerse meebring wat meer beleggers na die dollar sal lok.

Hierbenewens bly die dollar gewoonlik ’n veilige beleggingshawe wanneer die wêreldekonomie wisselvallig of onvoorspelbaar raak. Die vrees dat Trump wêreldwye spanning kan aanwakker wat selfs ’n handelsoorlog kan ontketen, kan beslis skommeling veroorsaak.

Desember se brandstofpryse word na verwagting vroeg aanstaande week aangekondig en tree op Woensdag (4/12) in werking.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.