South Africa
Vermeende handelaar vas met groot klomp khat in Groot-Karoo─── 07:00 Thu, 26 Dec 2024
’n Vermeende dwelmhandelaar wat sy rieme in die Karoo styf geloop het, bly nog tot ten minste Donderdag (27/12) in polisieaanhouding.
Wes-Kaapse polisie het die man (24) omstreeks 07:00 op Kersoggend (25/12) op die N1 naby Prins Albert aangekeer, sê sers. Christopher Spies, provinsiale polisiewoordvoerder. Dis een van die toegangsroetes na die provinsie waarop wetstoepassers strategies ontplooi word om misdaad tydens die Kerstyd te bekamp.
Beamptes van Sentraal-Karoo en Prins Albert het vroegdag voertuie op die N1 nagegaan toe hulle ook ’n Toyota Quantum-minibus voorkeer. Toe hulle die voertuig deursoek, het hulle op twee reissakke afgekom met 253 pakkies khat daarin, sê Spies. Dit het ’n geskatte straatwaarde van R25 000.
Op pad Kaapstad toe
“Die dwelms is verbind met ’n passasier op die minibus wat gevolglik in hegtenis geneem is vir dwelmhandel. Hy was … op reis na Kaapstad.”
Spies sê die verdagte bly in aanhouding tot hy na verwagting later vandeesweek in die landdroshof op Prins Albert sal verskyn.
Celastrus edulis, ook bekend as spelonk- of Boesmantee, word in Arabië gekweek om die belangrikste drank van die bevolking, khat, te lewer. Foto: SAPD
• Khat word gemaak van die struik Catha edulis, waarvan die blare en lote tradisioneel in Arabië en Oos-Afrika gekou is. Dit het ’n stimulerende uitwerking, wat ongeveer ooreenkom met dié van drank.
Dit bevat die chemikalieë katine, katidine en katinne. Al verskil dié drie bestanddele van khat in besonderhede, het al drie ’n stimulerend-narkotiese uitwerking soos dié van kokaïen en kafeïen. Dit veroorsaak verhoogde waaksaamheid, energie, en ’n gevoel van euforie, maar hierdie effekte is kortstondig en gaan dikwels gepaard met newe-effekte.
Khat belemmer produktiwiteit
Die gevare van khat lê in sy verslawende aard en die gesondheidsnadele. Langtermyngebruik kan lei tot geestesprobleme soos angs, depressie en paranoia. Fisieke gesondheidsprobleme sluit in hoë bloeddruk, hartkloppings, spysverteringsprobleme en tandvleisontsteking. Omdat dit eetlus onderdruk, kan dit ondervoeding veroorsaak.
Sosiaal het khat ’n nadelige uitwerking omdat gebruikers dikwels ure lank in groepe bymekaarkom, wat produktiwiteit en gesinsverhoudings kan benadeel. In sommige lande is die verbouing en gebruik van khat wettig, maar in baie ander, soos Suid-Afrika, is dit onwettig weens die gesondheids- en sosiale gevare.
OFM Nuus mc