On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Oranje golf ruk in Pretoria op teen Bela-wet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 16:58 Tue, 05 Nov 2024

Oranje golf ruk in Pretoria op teen Bela-wet | News Article
Sowat 10 000 mense het Dinsdag teen Bela betoog. Foto: Solidariteit

Duisende mense in oranje geklee het Dinsdag (5/11) in Pretoria hul sterk teenkanting teen die omstrede Bela-wet getoon.

Meer as 10 000 mense het by die Voortrekkermonument bymekaargekom, waar hulle aan ’n byna 2 km lange, vreedsame optog na die Vryheidspark deelgeneem het om ’n versoekskrif aan verteenwoordigers van die regering van nasionale eenheid te oorhandig. 

Die betoging, grootliks deur die Afrikaanse gemeenskap gedryf, was spesifiek gemik op die Bela-wet se taal- en toelatingsbeleidsklousules, wat volgens die betogers moedertaalonderrig bedreig, veral in Afrikaanse skole.

Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, die Bela-wet ’n “rooi lyn” vir die Afrikaanse gemeenskap verteenwoordig, wat die wet as ’n direkte bedreiging vir hul taal en kultuur beskou.

Dr. Dirk Hermann beskryf die Bela-wet as ’n bedreiging vir die Afrikaanse taal en kultuur. Foto: Solidariteit

’n Memorandum met eise is aan die DA en VF+, as ondersteuners van die protesaksie, oorhandig waarna die vreedsame staptog van nagenoeg 1,8 km op Reconciliationweg begin het, van die Voortrekkermonument tot by Vryheidspark. Hier is die memorandum – wat deur meer as 40 organisasies onderteken is – aan Gayton McKenzie as verteenwoordiger van die Presidensie oorhandig.

John Steenhuisen, DA-leier, dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, en gewese Tshwane-burgemeester Cilliers Brink was van die politieke leiers by die optog.

Optoggangers het sowat 1,8 km van die Voortrekkermonument tot by die Vryheidspark oorkant Unisa gestap. Foto: Solidariteit

Volgens Flip Buys, Solidariteit Beweging-voorsitter, probeer “hedendaagse kolonialiste” soos Gautengse premier Panyaza Lesufi, Matome Chiloane, LUR vir onderwys, om Afrikaanse skole soos die kolonialiste van ouds te verengels. “Hulle sal nie slaag nie. Afrikaans sal bly.

“Wat ons vandag hier doen, is uit liefde. Dit is nie soos Lesufi en kie uit haat vir ander groepe nie. Dis uit liefde vir ons kinders. Dit is uit liefde vir ons skole. Dit is uit liefde vir ons taak, ons erfenis en die land.”

Die protes gaan nie net oor die hede nie, maar ook oor die versekering van ’n toekoms vir Afrikaanse onderwys, het Hermann gesê. “Meer as 10 000 mense het vandag gesê hulle sal nie toelaat dat hul kinders se toekoms weggeneem word nie.”

Kallie Kriel neem deel aan die “grootste optog van Afrikaanssprekendes sedert 1994”. Foto: Solidariteit

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die betoging ’n “historiese dag” genoem en dit beskryf as die grootste optog van Afrikaanssprekendes sedert 1994.

“Mense is kwaad, en hulle het vandag hierheen gekom om dit te wys. Hulle is kwaad omdat ons kinders geteiken word deur ’n wet wat Afrikaanse skole aanval en ons kulturele voortbestaan bedreig.”

DA-leier John Steenhuisen sê mense mag nie van moedertaalonderwys ontneem word nie. Foto: Solidariteit

Steenhuisen het beklemtoon dat die taal- en toelatingsklousules van die Bela-wet te veel mag aan die staat gee, wat die regte van ouers en gemeenskappe ondermyn om besluite oor hul kinders se opvoeding te neem.

“Ons Grondwet is duidelik,” sê hy. “Elke persoon het die reg op onderwys in die taal van hul keuse. Hierdie regte kan nie sommer met ’n pen uitgevee word nie.”

VF Plus-leier dr. Pieter Groenewald het die ANC se vinnige aanvaarding van die Bela-wetsontwerp gekritiseer. Foto: Solidariteit

Groenewald het die ANC ook sterk gekritiseer omdat hy die Bela-wet net voor die nasionale verkiesing deurgedruk het en gesê hulle weet hulle sal dalk nie meer aan bewind wees ná die stemming nie. “Elke tree wat jy vandag hier gee, is ’n tree van verandering.”

McKenzie het pres. Cyril Ramaphosa bedank dat hy na die stem van die Afrikaanse gemeenskap geluister het deur die implementering van die twee artikels uit te stel.

Hy het egter benadruk dat die geveg voortgesit sal word. “Ons sal baklei vir Afrikaans, want Afrikaans gaan nêrens heen nie.”

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.