On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

Dapper Alison Botha veg (weer) om haar lewe

───   11:43 Wed, 23 Oct 2024

Dapper Alison Botha veg (weer) om haar lewe | News Article
Alison Botha, motiveringspreker. Foto: Afternoon Express

Sy het wonderbaarlik ’n wrede bendeverkragting en aanval in 1994 oorleef, maar veg die afgelope twee weke in die hospitaal weer om haar lewe ná ’n brein-aneurisme.

Alison Botha het ná ’n operasie Donderdag om bloed te dreineer, Sondag haar oë in die hospitaal oopgemaak en kan op ’n beperkte manier kommunikeer.

Sy het in 1994 bekend geword nadat sy verkrag, meermale in haar buik gesteek en haar ingewande uitgetrek is. Sy is ook byna onthoof.

Botha is naby Schoenmakerskop vir dood agtergelaat en het na die hoofpad geloop met een hand wat haar kop regop gehou het en die ander wat haar ingewande teen haar buik probeer vashou het. ’n Barmhartige samaritaan het haar in die pad gewaar en gehelp.  

Haar aanvallers, Theuns Kruger en Frans du Toit. Foto: ‘I have life’

Botha (nou in haar 50’s) het geweier om ’n slagoffer te wees en het later die lewe geskenk aan twee seuns ten spyte van die aanvanklike prognose dat sy weens haar beserings dalk nie kinders sou kon gebaar het nie. Sy het volkome herstel en gehore wêreldwyd met haar verhaal van moed geïnspireer en verstom – veral oor hoe sy die oënskynlik onmoontlike oorkom het.

Theuns Kruger en Frans du Toit het Botha (destyds 26) in Noordhoek naby Gqeberha ontvoer voordat hulle haar verkrag het en 37 keer in die maag en 17 keer in die nek gesteek het.

Ná hul vrylating op parool op 4 Julie verlede jaar leef Botha in vrees dat hulle vergelding sal soek. Tania Koen, Botha se regsverteenwoordiger, sê die vrylating was ’n groot terugslag vir haar – emosioneel en liggaamlik. “Sy was onder geweldige spanning en haar gesondheid het agteruitgegaan.”


“Alison het haar oë oopgemaak, en by tye kommunikeer sy, maar enige voorspelling is voortydig,” skryf Koen Sondag (20/10) op sosiale media geskryf. “Haar bestaande mediese toestande weens die aanval (in 1994) het ’n reeds ernstige mediese scenario bemoeilik.”

Koen het die bloeding op Alison se brein as erg beskryf en bygevoeg mediese toetse in die komende weke sal die volle omvang bepaal van wat vir Alison se rehabilitasie nodig sal wees. Botha sal beslis geruime tyd nie kan werk nie, indien ooit weer. Sy sal aansienlike sorg nodig hê wanneer sy ontslaan word.

Botha behoort nie aan ’n siekefonds nie en word in ’n staatshospitaal behandel. Koen het vroeër gesê geen inligting sal oor die hospitaal bekendgemaak word nie ter wille van haar veiligheid.


Alison se ontstellende ervarings en herstel is omskep in ’n topverkoperroman en ’n dokumentêr, wat in 2016 uitgereik is. Alison het jare daaraan gewy om ander te bemagtig met haar oorlewingsverhaal. Nou kry Suid-Afrikaners die geleentheid om haar by te staan.

OFM Nuus cg/mc/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.