South Africa
Borgtog vir Baaise boekhouer wat glo R14 miljoen steel─── 14:43 Wed, 29 Jan 2025
’n Gewese finansiële bestuurder van Gqeberha wat sy werkgewer na bewering oor ’n tydperk van ses jaar besteel het, moet weer begin April in die New Brighton-distrikshof verskyn.
In wat as ’n groot deurbraak beskryf word, is Storm Denim Samuel Karlin (32) Dinsdag (28/1) deur die Valke se ondersoekspan vir ernstige handelsmisdaad en die NVG in hegtenis geneem in verband met meer as R14 miljoen se diefstal, sê lt. Avele Fumba, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder.
Karlin was van Julie 2018 tot Mei 2024 finansiële bestuurder van ’n Baaise onderneming, toe hy volgens die voorlopige ondersoek toegang tot die firma se sakebankrekening gehad het. Hy was blykbaar gemagtig om betalings goed te keur en onder sy eie naam uit te betaal.
Gevaarligte flikker
Gevaarligte het begin flikker toe ernstige teenstrydighede in die onderneming se finansiële rekords begin opduik, sê Fumba, waarna die Valke gevra is om die saak dringend grondig te ondersoek.
Tydens hul deeglike ondersoek het die Valke vasgestel dat Karlin na bewering jare lank die boeke bekook het vir eie gewin. Hy het na bewering onregmatig en doelbewus groot bedrae oorgeplaas na twee bankrekeninge wat met hom verbind word, wat eindelik op meer as R14 miljoen te staan gekom het.
Die beskuldigde word in April in die New Bighton-distrikskhof verhoor. Skermskoot: Google Maps
Karlin het kort ná sy inhegtenisneming in die distrikshof voorgekom toe hy R10 000 borgtog toegestaan, sê Fumba. Die saak is vir verdere ondersoek tot Vrydag 4 April uitgestel.
Genl.maj. Mboiki Obed Ngwenya, Oos-Kaapse Valke-hoof, loof die ondersoekspan vir hul harde werk. “Sulke sake bewys die Valke se toewyding daartoe om gesofistikeerde finansiële misdrywe hok te slaan wat die sakesektor se ekonomiese stabiliteit ondermyn.”
Plig om aan te meld
Kragtens artikel 34(1) van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede moet enigeen wat ’n gesagsposisie beklee (soos omskryf in die wet), en wat weet of redelikerwys moes geweet of vermoed het dat iemand anders ’n misdryf (van korrupsie) gepleeg het ingevolge artikels 3 tot 16 of 20 tot 21 van die wet, sodanige kennis of vermoede aanmeld of laat aanmeld by enige polisiebeampte.
Dit geld ook diefstal, bedrog, afpersing, vervalsing of die voorlegging van ’n vervalste dokument waarby ’n bedrag van R100 000 of meer betrokke is, maan die Valke.