On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Kommer nadat NVG aanklagte teen Libiërs in Mpumalanga laat vaar

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:04 Fri, 16 Aug 2024

Kommer nadat NVG aanklagte teen Libiërs in Mpumalanga laat vaar  | News Article
Die aanklagte teen Libiërs op ’n Witrivier-plaas is teruggetrek. Foto: X

“Dit is skokkend dat die NVG alle aanklagte laat vaar teen die 95 buitelanders wat daarvan beskuldig word dat hulle die Immigrasiewet oortree het.”

Kommer heers oor die terugtrekking van alle aanklagte teen die Libiese burgers wat in Julie op ’n onwettige militêre opleidingsbasis op ’n plaas in Mpumalanga in hegtenis geneem is.

Dit is skokkend dat die NVG alle aanklagte laat vaar teen die 95 buitelanders wat daarvan beskuldig word dat hulle die Immigrasiewet oortree het, meen Herman Mashaba, ActionSA-president. “Ten spyte van die onbeantwoorde vrae oor hoe hierdie individue toegang tot Suid-Afrika verkry het en hul voornemens, word hulle nou gedeporteer.”

Die opleidingsentrum in Mpumalanga lyk meer na ’n militêre opleidingsbasis. Foto: X

OFM Nuus het vroeër berig dat die Libiërs Donderdag (15/8) in Witrivier se landdroshof verskyn het, waar die Direkteur van Openbare Vervolging besluit het om die aanklagte teen hulle te laat vaar.

“Daar is besluit dat die saak nou na Binnelandse Sake verwys sal word, sodat slegs administratiewe prosedures deur die Departement van Binnelandse Sake hanteer moet word voordat die individue na Libië kan terugkeer,” het kol. Donald Mdhluli, Mpumalanga-polisiewoordvoerder, gesê.

‘Die minister self het aangedui dat hulle inderdaad onreëlmatig visums verkry het’

Hierdie sake het aanvanklik ontstaan uit beweerde oortredings van die Immigrasiewet toe voorheen aangedui is dat die individue hulself wanvoorgestel het toe hulle om visums aansoek gedoen het.

Volgens Mashaba glo ActionSA dat hulle hier in aanhouding moet bly totdat die aard van elkeen van die 95 se aktiwiteite in Suid-Afrika ten volle vasgestel is. “Dis die minister van Binnelandse Sake self wat aangedui het dat hulle inderdaad onreëlmatig visums verkry het om Suid-Afrika binne te kom.”

Hy sê dit beteken die Libiërs kan skuldig wees aan twee oortredings: Hulle het die land onwettig binnegkom én bedrog met visums gepleeg.

Bo en behalwe hierdie oortreding van die Immigrasiewet, meen Mashaba die intelligensiedienste het versuim om basiese vrae te beantwoord. Dit sluit in of die 95 deel was van ’n bekende of onbekende militante groep, of hulle ’n bedreiging vir nasionale veiligheid ingehou het, en veral of enige staats- of nie-regeringsrolspelers hul bedrywighede moontlik gemaak of gesteun het.

“Dit is dus die regering se plig om sy stilswye te verbreek en die nasie in sy vertroue te neem oor wat presies hier gebeur het, wat volgens alle weergawes ’n skreiende intelligensie- en wetstoepassingsmislukking is,” voeg hy by.

ActionSA sê dis onhoudbaar vir Suid-Afrika om as ’n veilige hawe beskou te word waar militante groepe, internasionale voortvlugtiges en misdaadbase skuiling kan vind weens die lakse wetstoepassing wat dit vir hulle moontlik maak om die gereg te ontduik.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.