On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Afname in motorkapings; toename in motordiefstal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:59 Sun, 01 Sep 2024

Afname in motorkapings; toename in motordiefstal | News Article
Foto: cartrack.co.za

“Dit moet eerder die behoefte aan groter bewustheid en voorsorgmaatreëls beklemtoon om kapingsrisiko’s te verminder.”

Die jongste misdaadstatistiek wat Vrydag (30/8) uitgereik is, toon in die algemeen ‘n afname in motorkapings die afgelope kwartaal, hoewel ander voertuigmisdaad steeds toeneem. 

Motorkapings het egter in die Oos-Kaap en Wes-Kaap toegeneem.

Die Slagoffers van Misdaad-opname vir 2023/24, wat onlangs deur Stats SA vrygestel is, dui aan dat hoewel daar ’n afname van 28,9% in motorkapings was sedert die 2022/23-verslag, daar ’n toename van 2,5% oor die afgelope vyf jaar was, sê Eugene Herbert, uitvoerende hoof van MasterDrive. Volgens die verslag word meer as 60 motors daagliks gesteel.

“Diefstal van motorvoertuie het egter 'n beduidende 19,2%-toename getoon, wat beteken dat burgers ’n hoë risiko loop om slagoffers van voertuigverwante misdaad te word.”

Stats SA se 2023/24 Slagoffers van Misdaad-opname het ’n kommerwekkende toename in die meeste soorte misdaad aan die lig gebring, hoewel motorkapings aansienlik afgeneem het.

Herbert sê hoewel sommige voertuie meer geteiken word as ander, enigiemand enige tyd gekaap kan word. 

“Die hoër risiko verbonde aan sekere voertuie kan onwilligheid veroorsaak om hulle te bestuur, maar dit moet eerder die behoefte aan groter bewustheid en voorsorgmaatreëls beklemtoon om kapingsrisiko’s te verminder, ongeag die voertuig wat jy bestuur of die area waarin jy dit bestuur. Motor-entoesiaste wat daarna streef om ‘hoërisiko’-modelle te besit, moet bewus wees van die gevare.”

Hoewel motorkapings nie altyd voorkom kan word nie, is daar verskeie tegnieke wat bestuurders kan gebruik om riskante situasies te vermy. “Die belangrikste wenk is om so kalm as moontlik te bly. Tipies is die primêre doel van misdadigers om die voertuig te steel en van die toneel te vlug,” sê Herbert.

Bly waaksaam

Verhoogde bewustheid is die beste verdediging teen kapings. “Gee noukeurig aandag aan verdagte voertuie of individue en maak seker jy word nie gevolg nie. Vergewis jouself van gereelde gesigte langs jou roete, en wees ekstra versigtig wanneer jy nuwes opmerk. Aandag aan detail kan jou lewe red,” sê Herbert.

Wees voorbereid

Voordat jy jou voertuig bereik, hou jou motorsleutels gereed. “Wees ook bereid om jou eiendom onmiddellik met aankoms te betree, sonder om tyd te mors om huissleutels te soek. Dit verminder die tyd wat jy kwesbaar en afgelei is. As jy jong kinders het, oefen kapingsonttrekkingstegnieke en kom ooreen op ’n ‘veilige’ woord om hulle te mobiliseer ingeval die ergste gebeur,” raai Herbert aan.

Bestuur slim

Die gebruik van tegnieke soos die handhawing van ’n 12-sekonde vorentoe-visie laat jou toe om verkeerstoestande te antisipeer en stilstaande tyd te verminder. Posisioneer jouself altyd om ’n ontsnaproete te hê indien nodig. Handhaaf ’n “'veiligheidskussing” of ’n driesekondevolgafstand van die motor voor jou om jou te help om potensiële gevare meer effektief te omseil.

Parkeer reg

Vermy om reguit in jou oprit of parkeerplek in te ry. Agteruitparkering bied ’n wyer gesigsveld en meer tyd om jou omgewing waar te neem, wat vinniger reaksies moontlik maak.

Ondanks die onlangse afname bly motorkapings ’n groot bekommernis in Suid-Afrika. “Dit verg ’n gesamentlike poging van alle padgebruikers, organisasies en die regering om hierdie afname vol te hou. Deur ingelig te bly en veiligheidsmaatreëls te tref, kan bestuurders hul risiko om slagoffers te word aansienlik verminder,” sê Herbert.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.