On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Hoe lyk jou koskaste deesdae?

───   HEIDRÈ MALGAS 15:41 Thu, 15 Aug 2024

Hoe lyk jou koskaste deesdae? | News Article
Verbruikers kies goedkoper alternatiewe, koop in grootmaat en beplan hul etes. Foto: BUSINESSTECH

“Om plaaslike produkte koop, pleks van ingevoerde items, is een van die maniere waarop Suid-Afrikaners koste bespaar.”

Weens die skerp styging in die koste van kruideniersware is verbruikers nou meer prysgevoelig en op soek na goedkoper opsies wanneer hulle inkopies doen. 

“Verbruikers kies goedkoper alternatiewe, koop in grootmaat en beplan hul etes om kosvermorsing te verminder,” sê dr. Nokuthula Tinta, dosent in die departement volhoubare voedselstelsels en ontwikkeling aan die Universiteit van die Vrystaat.

“Sommiges wend hulle selfs tot informele markte of straatverkopers vir meer bekostigbare opsies,” sê hy, terwyl ál mere verbruikers aanlyn inkopies verkies. Dit stel hulle in staat om pryse te vergelyk en makliker afslag te kry.

‘Nienoodsaaklike uitgawes is dikwels die maklikste om te verminder’

“Suid-Afrikaanse verbruikers sal waarskynlik ook besnoei op nienoodsaaklike goedere soos klere, bykomstighede en vermaak. Wanneer hulle ’n knap begroting bestuur, is hierdie nienoodsaaklike uitgawes dikwels die maklikste om te verminder.

“Weens stygende lewenskoste en ekonomiese onsekerheid prioritiseer verbruikers noodsaaklike uitgawes soos kos, huur en dienste bo diskresionêre besteding.”

 

Die koste van voedsel in Suid-Afrika het in Junie jaar-op-jaar met 4,60% gestyg. Foto: Statistics South Africa

Sy sê beurtkrag het ook ’n groot uitwerking op verbruikers se aankoopbesluite gehad. Baie verbruikers prioritiseer die aankoop van niebederfbare goedere en belê in alternatiewe energieoplossings soos kragopwekkers en sonpanele.

“Weens kosteoorwegings prioritiseer baie Suid-Afrikaanse verbruikers plaaslike produkte bo ingevoerde produkte. Plaaslike produkte is dikwels meer bekostigbaar en word as vars beskou, wat verbruikers help om hul begroting doeltreffender te bestuur.”

Hierdie skuif na die koop van plaaslike produkte word ook aangevuur deur ’n begeerte om die plaaslike ekonomie te ondersteun en werkskepping te bevorder.

‘Afhaalbestellings het egter toegeneem’

Sy sê restaurante het moontlik ’n afname in verkope ervaar aangesien die frekwensie van uiteet verminder het weens verbruikers wat probeer om koste te bespaar. Afhaalbestellings het egter toegeneem omdat verbruikers op soek is na maklike maaltydopsies sonder om self te kook, veral tydens beurtkragsituasies.

“Baie Suid-Afrikaanse verbruikers koop nou in grootmaat en soek aktief afslag om ekonomiese druk die hoof te bied. Hulle soek maniere om geld te bespaar en hul rande te rek, of dit nou deur in grootmaat te koop of voordeel te trek uit promosies en afslag.”

Die grafiek toon die gemiddelde prys van The Outlier se kruidenierswaremandjie per maand oor die ses kleinhandelaars van Januarie tot Julie 2023. Die tabel toon die werklike maandelikse pryse wat elke maand aangeteken word. Grafika: BusinessTech

“Daar is ongelukkig ’n toename in die gebruik van krediet- en skulddienste aangesien verbruikers sukkel om hul daaglikse uitgawes te bestuur. Dit is ’n kommerwekkende tendens, want dit kan lei tot skuldslaggate en finansiële nood.”

Aanlyn inkopies het al hoe belangriker geword tydens ekonomiese terugslae. Dit bied gerief, kostebesparings, en toegang tot ’n wyer reeks produkte en pryse. Aanlyn inkopies stel verbruikers ook in staat om pryse te vergelyk, aanbiedinge te vind en reis tydens beurtkragure te vermy.

‘Laerinkomstehuishoudings word meer betekenisvol beïnvloed’

Sy sê dat ekonomiese bekommernisse verbruikers genoop het om gesondheidsverwante aankope te verminder, en eerder bekostigbaarder alternatiewe te kies of nienoodsaaklike welstand- en fiksheidsprodukte uit te stel. Noodsaaklike gesondheidsitems bly egter ’n prioriteit.

Laerinkomstehuishoudings word meer betekenisvol beïnvloed deur die huidige ekonomiese toestande en is meer geneig om finansiële druk te ervaar en hul bestedingspatrone dienooreenkomstig aan te pas.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.