On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Saak teen Libiërs op Witrivier-plaas teruggetrek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:53 Thu, 15 Aug 2024

Saak teen Libiërs op Witrivier-plaas teruggetrek | News Article
Van die 95 Libiërs wat in Mpumalanga in hegtenis geneem is. Foto: X

“Hierdie sake het aanvanklik ontstaan uit beweerde oortredings van die Immigrasiewet, waar daar voorheen aangedui is dat die individue hulself wanvoorgestel het toe hulle om visums aansoek gedoen het.”

Die strafsaak teen die Libiese burgers wat buite Witrivier aangekeer en daarvan beskuldig is dat hulle die Immigrasiewet oortree het, is teruggetrek.

Die 95 Libiërs het Donderdag (15/8) in Witrivier se landdroshof verskyn waar die Direkteur van Openbare Vervolging besluit het om die aanklagte teen hulle te laat vaar, sê kol. Donald Mdhluli, Mpumalanga-polisiewoordvoerder.

“Daar’s besluit dat die saak nou na binnelandse sake verwys sal word, sodat slegs administratiewe prosedures deur die Departement van Binnelandse Sake hanteer moet word voordat die individue na Libië kan terugkeer.”

Hierdie sake het aanvanklik ontstaan uit beweerde oortredings van die Immigrasiewet toe voorheen aangedui is dat die individue hulself wanvoorgestel het toe hulle om visums aansoek gedoen het.

Die opleidingsentrum in Mpumalanga lyk meer na ’n militêre opleidingsbasis. Foto: X

Volgens Mdhluli was daar ook bewerings, gegrond op videogrepe, dat van dié buitelanders misdaad gepleeg het, soos roof en selfs verkragting. “Geen formele aanklagte is egter teen hulle aanhangig gemaak nie ten spyte van ’n openbare beroep op slagoffers om na vore te kom.”

“Sonder enige formele aanklagte laat die wet nie inhegtenisneming as ’n vorm van straf toe nie, en volgens Artikel 34 moet individue wat bevind word dat hulle die Immigrasiewet oortree het, eenvoudig na hul land terugbesorg word. Dit verklaar die terugtrekking van die saak,” sê Mdhluli.

Intussen duur die ondersoek voort na die persoon wat na bewering onwettige opleiding buite Witrivier gedoen het. “Wetstoepassingsagentskappe, saam met ander belanghebbendes, is aktief besig om hierdie saak te ondersoek. Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die bevindinge dienooreenkomstig gekommunikeer word.”

Die 95 Libiërs is op 26 Julie in hegtenis geneem op ’n beweerde militêre basis op ’n plaas buite Witrivier, noord van Nelspruit (Mbombela).

Die polisie, in samewerking met die provinsiale gesamentlike operasionele en intelligensiestrukture, die Departement van Binnelandse Sake en die polisie se intelligensiedienste het ’n klopjag uitgevoer, nadat inligting ontvang is oor ’n militêre opleidingsbasis, het brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.

“Tydens die klopjag op die plaas het ’n span onder leiding van polisiespeurders die Libiërs aangetref wat in militêre tente gehuisves is. Militêre opleidingstoerusting, insluitend gelisensieerde vuurwapens, is op die terrein aangetref.”

Die Libiers het op 29 Julie vir die eerste keer in die landdroshof op Witrivier verskyn en was sedertdien in aanhouding.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.