On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

South Africa

Sluipmoordaanvalle op ondersoekers in Suid-Afrika wek kommer

───   13:30 Wed, 24 Jul 2024

Sluipmoordaanvalle op ondersoekers in Suid-Afrika wek kommer | News Article

“Nie net fluitjieblasers of amptenare wat iemand ondersoek, verkeer in gevaar nie. Enigiemand wat as ’n teenstander van hierdie kriminele sindikate beskou word, kan ’n teiken word.”

’n Reeks sluipmoordpogings op ondersoekers in Suid-Afrika werp volgens die burgerlike samelewing ’n donker skadu oor die land se pogings teen korrupsie.

The Citizen berig hierdie geteikende aanvalle dreig om sleutelondersoeke te ontspoor en toekomstige pogings te ontmoedig wat ’n groot uitdaging inhou vir diegene wat daartoe verbind is om korrupsie uit te roei.

Corruption Watch se Karam Singh beklemtoon die toenemende geweld rondom die misdaad- en korrupsiesituasie in die land.

‘Dit kan suksesvolle ondersoeke smoor’

“Ons het nou hierdie veiligheidsuitdaging vir diegene wat betrokke is by ondersoeke. Dit kan teenkorrupsiepogings in die wiele ry omdat die behoefte aan ondersoeke tans ons kapasiteit oortref,” sê Singh.

“Suksesvolle ondersoeke word uitgevoer deur professionele wat toegewy is aan hul werk en verseker dat geen steen onaangeroer gelaat word nie. Die probleem is, as jy daardie ondersoekers uithaal, is dit baie moeilik vir die stelsel om voort te gaan waar hulle opgehou het. Dit kan suksesvolle ondersoeke smoor en die teenkorrupsieomgewing louwarm laat.”

Dié bekommernis is weer geopper ná die sluipmoordpoging op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se adv. Coreth Naudé, wat by verskeie hoëprofielondersoeke betrokke is. Vroeër vandeesmaand is Zenzele Benedict Sithole, ondersoeker van die Johannesburg-metro, om die lewe gebring.

Verlede jaar is die likwidateurs Cloete en Thomas Murray in ‘n sluipmoordaanval dood en die Gautengse gesondheidsdepartement se Babita Deokaran is in Augustus 2021 vermoor.

Geteikende moorde in Suid-Afrika is niks nuuts nie.

’n Fluitjieblaser Moses Phakoe is in Maart 2009 by sy huis in Rustenburg-Noord doodgeskiet nadat hy ’n dokument oor munisipale korrupsie aan hooggeplaaste ANC-amptenare oorhandig het.

Xola Banisi is in September 2014 doodgeskiet nadat hy die Valke en die Openbare Beskermer genader het oor korrupsie wat verband hou met twee tenders by Bloem Water.

“Ons moet ’n beskermende raamwerk bou en dit moontlik oorweeg om hulpbronne rondom BBP-sekuriteit uit te brei na mense wat bedreig word.


“Ons kort duidelike protokolle oor risikoprofiele van sensitiewe ondersoeke. Dit kan ondersoeke wees wat deur die polisie, die spesiale ondersoekeenheid, die ouditeur-generaal of die SAID gelei word,” meen Singh. 

“As die risiko hoog is en daar ’n bedreiging is moet ons hulpbronne en kapasiteit toewys om die ondersoekers te isoleer van diegene wat sou probeer om hulle te frustreer, hetsy deur intimidasie of werklike dreigemente.”

Volgens ’n 2022-verslag deur die Global Initiative Against Transnational Crime, getiteld Strategic Organised Crime Risk Assessment, is georganiseerde misdaad in Suid-Afrika hoogs verbonde, divers, entrepreneuries, ingebed en gewelddadig.

Die verslag sê die geweld word ál meer professioneel in Suid-Afrika en dui op ’n toename in georganiseerde misdaad in die voorafgaande tien jaar.

Chris de Kock, onafhanklike misdaadkenner, stem saam die onlangse moord op beroepslui en ondersoekers is kenmerkend van georganiseerde misdaad. “Wat ons sien is georganiseerde misdaad. Korrupsie en georganiseerde geweld is sleutelkenmerke van die strategiese evolusie van georganiseerde misdaad in Suid-Afrika.

“Een van die kenmerke van georganiseerde misdaad is om enige bedreiging uit te skakel wat naby aan die onthulling van die misdaad is en dit is wat ons sien,” meen hy. Die omvang van hierdie korrupsie en misdadigheid is wyd. 

Daar is spesifieke kenmerke, soos korrupsie, afpersing en om oor internasionale en staatsgrense heen te werk. “Dit is nie net fluitjieblasers of amptenare wat iemand wat in gevaar is, ondersoek nie. Enigiemand wat as opposisie teen hierdie kriminele sindikate beskou word, kan ’n teiken word.”

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.