On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

South Africa

Geliefde Afrikaanse skrywer, prof. Hans oorlede

───   12:57 Sat, 26 Oct 2024

Geliefde Afrikaanse skrywer, prof. Hans oorlede | News Article
Prof. Hans word met enorme dankbaarheid deur die ATKV onthou. Foto: ATKV

“Hans du Plessis het stories gelééf.”

Die ATKV neem met groot leedwese kennis van Hans du Plessis – letterkundige, digter, skrywer en ATKV-erelid – se heengaan op 25 Oktober.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, beskryf hom as ’n reus in die letterkundige gemeenskap, en sê sy nalatenskap het hierdie sfeer geweldig verryk.

Sy bydrae tot prosa en poësie in Afrikaans en veral sy verwerkings van verskeie Bybelgedeeltes in Griekwa-Afrikaans het groot byval gevind by letterkundeliefhebbers én gewone mense. Daarvan het die rekordverkope van sy werk getuig.

Prof. Hans, soos hy alombekend was, word ook met enorme dankbaarheid deur die ATKV onthou vir sy werk as jarelange mentor en eerste hoof van die ATKV-Skryfskool. Dat hy nog verlede Saterdag ’n ATKV-skryfkursus in Parys aangebied het, is tekenend van sy lewenslange toewyding tot die ontwikkeling van skryftalent. 

Die honderde studente en skryfskoolgangers wat onder Du Plessis se leiding aan hul skryfwerk kon slyp, spreek van sy wye invloed. Talle bekende skrywers het trouens hul eerste skryftreë gegee onder “prof Hans” se leiding.

Die ATKV betuig ons diepe meegevoel met Hans se vrou, Magdaleen, sy vier seuns en skoondogters, nege kleinkinders en almal op wie se lewenspad hy ’n dierbare reisgenoot was.

Mediaverklaring


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.