On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

Jan Taks veroordeel aanval op advokaat in belastingondersoek

───   15:00 Fri, 19 Jul 2024

Jan Taks veroordeel aanval op advokaat in belastingondersoek | News Article
Adv. Coreth Naudé. Foto: X

“Die slagoffer het glo daarin geslaag om na veiligheid te ry en sy is met skietwonde hospitaal toe gehaas.”

Die SAID-kommissaris, Edward Kieswetter, het die sluipmoordpoging op adv. Coreth Naudé ten sterkste veroordeel.

Volgens berigte op sosiale media het twee gewapende mans Donderdag skote op haar voertuig in Umhlanga afgevuur nadat sy van die belastingondersoek van die Royal AM-sokkerklubeienaar, Shauwn Mkhize, teruggekeer het.

Die polisie sê twee gewapende mans het die valhek van ’n Umhlanga-hotel genader en Donderdag (18/7) op Naudé se motor losgebrand.

Die KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê sy is nog in die hospitaal.

“Die slagoffer het glo daarin geslaag om na veiligheid te ry en sy is met skietwonde hospitaal toe gehaas. Die verdagtes het in ’n silwer of grys Toyota Corolla van die toneel gevlug en daar is gevind dat die nommerplate gekloon is.”

Intussen het Kieswetter die aanval as ’n daad van intimidasie beskryf en gesê die SAID-amptenare sal nie afgeskrik word nie.

Naudé het glo saam met die SAID gewerk in 'n belastingondersoeksaak waarby 'n prominente Durbanse sakevrou betrokke was. Durban-Noord-polisie ondersoek nou ’n saak van poging tot moord.

Kieswetter sê die “skokkende daad” was bedoel om beamptes van die hof te intimideer om die noodsaaklike werk wat hulle verrig ter bevordering van die land se regstelsel te laat vaar. “Dit ondermyn die gesag van die staat,”sê hy.

Naudé was by die Mkhize-belastingondersoek betrokke nadat die sakevrou 'n gerapporteerde belastingrekening van R37 miljoen gekry het, wat sy belowe het om te betwis.

‘Ons sal nie geïntimideer word deur sulke dade nie’

Kieswetter het ’n beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om vinnig op te tree om diegene wat verantwoordelik is te vervolg en in hegtenis te neem. “Die SAID wens advokaat Naudé ’n spoedige herstel toe en wens haar familie sterkte toe.

“Ons sal nie geïntimideer word deur sulke dade van misdaad en lafhartigheid nie.” 

Wie is Royal AM se eienaar?

Shauwn Mkhize is ’n selfgemaakte sakevrou wat sedert die middel 1990's sterk aan die gang is. The South African berig haar sakebelangstellings het in konstruksie begin, maar sy het haar sedertdien met instandhouding en vervoer besig gehou. Ondanks verskeie omstrede regsgedinge oor die jare en ’n paar botsings met Jan Taks, het MaMkhize staande gebly.

Haar sakeryk het vir haar BAIE geld gemaak. Haar persoonlike rykdom word egter selde bespreek. Maar volgens onlangse berigte het die Royal AM-eienaar ’n netto waarde van minstens R300 miljoen ($20 miljoen).

Sommige raam haar fortuin op iewers tussen R500 miljoen en R1 miljard, maar hierdie syfers was moeilik om te verifieer. Hoe dit ook al sy, die vrou van Royal AM geniet beslis haar plek op die troon, en verskeie borgskapooreenkomste sal waarskynlik verseker dat die klub kan meeding met diegene wat heel bo aan die PSL is.

MSN het in Mei berig, die SAID het ’n voorlopige bewaringsbevel verkry om R37 miljoen se onbetaalde belasting terug te eis wat aan Mkhize se ondernemings en ’n trust gekoppel is. Hierdie bevel sluit in die beslaglegging op ’n vloot luukse voertuie, soos ’n Lamborghini en verskeie luukse Duitse motors.

’n Konfrontasie tussen Mkhize se sekuriteitspan en gewapende wagte het egter daartoe gelei dat die batebeslaglegging in Durban, sowel as Sandton, laat vaar is om toenemende spanning te vermy.

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.