On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Olebogeng
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Thys die Bosveldklong gegroet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:21 Sun, 16 Jun 2024

Thys die Bosveldklong gegroet | News Article
Thys die Bosveldklong. Foto: Facebook

“Thys het ons gegroet. Nag, ou grote.”

Aanhangers van Thys Streicher, beter bekend as Thys die Bosveldklong, reageer vanoggend met groot hartseer op sosiale media ná sy afsterwe Saterdagaand (15/6). Dié geliefde Afrikaanse kunstenaar is slegs twee dae voor sy 50ste verjaardag oorlede. 

Sy vriend  en medekunstenaar LJ, wat ook as woordvoerder vir die familie optree, het bevestig dat hy in die hoësorgeenheid van ’n Pretoriase hospitaal oorlede is.

Die grapjas-sanger was bekend vir sy goeie sin vir humor en prettige treffers, maar agter die kollig het hy ’n stryd teen ’n meedoënlose vyand gevoer: veelvuldige sklerose (MS).

Die siekte is vroeg in 2019 by hom gediagnoseer nadat hy vier jaar lank simptome ervaar het. MS is ’n chroniese outo-immuunsiekte wat die sentrale senuweestelsel aantas en lei tot ’n magdom uitdagings, soos moegheid, spierswakheid en probleme om te beweeg. 

Hy was geruime tyd bedlêend weens die siekte, maar nadat dit gediagnoseer is, het hy behandeling ondergaan wat hom beweegliker gemaak het. Sy gesondheid het teen einde April erg verswak nadat hy breinvliesontsteking opgedoen het en ’n beroerte gehad het.


’n Gholfdag wat op 28 Mei op die Akasia-gholfbaan ten bate van Thys se mediese uitgawes gehou is, was ’n groot sukses. “My foon hou nie op lui sedert Thys in die hospitaal opgeneem is nie; dis verstommend hoe baie mense vir hom omgee,” het LJ gesê. 

Thys was bekend vir sy goeie sin vir humor en prettige liedjies soos "In die middel", "Vet pret", "Ek hou nie van werk nie", "Sy dra die broek", "Jaloers bokkie", "Ou bobbejaan" en "Ek sal boertjie bly". 

“Ek wil gaan wegkruip, tussen langstrand se duine
En as jy my soek is ek in Swakopmund
En as jy my vind, dans ek nie hier nie
Net 'n stukkie vrede in my gemoed
My laaste staan, my laaste groet;

“Almal van ons het 'n Swakopmund
Waar ons gaan wegkruip teen aardse goed
Met ons kaste vol geraamtes, wat ons gaan weg gooi
Tussen langstrand se duine.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.