South Africa
‘Net ’n hobbel in pad met VSA’ – Ramaphosa─── 14:16 Mon, 17 Mar 2025

Suid-Afrika se president bly optimisties ondanks die spanning tussen dié land en die Verenigde State.
Cyril Ramaphosa glo die bestaande verhouding tussen die twee nasies sal die huidige struikelblokke oorleef.
Die jongste konflik spruit uit die uitsetting van die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA, Ebrahim Rasool, ná opmerkings wat hy gemaak het in ’n webinar. Hy het pres. Donald Trump van “wit heerssugtigheid” beskuldig en Amerika se buitelandse beleid gekritiseer.
Ramaphosa het Maandag (17/3) voor ’n leierskapsberaad oor vroeë kinderontwikkeling in Johannesburg gesê Suid-Afrika sal steeds opbouend by die VSA betrokke te wees. Hy het beklemtoon die land se verbintenis tot die handhawing van voordelige betrekkinge in diplomasie en handel bly sterk.
“Ons het nog altyd gevind dat wanneer daar sulke uitdagings is en ons betrokke raak, ons wel oplossings vind. Dit is dus presies wat ons nou gaan doen. Dit is ons werk en dit is ons verantwoordelikheid as regering om die belange van ons land sowel as die belange van die mense van Suid-Afrika te bevorder.
“Dit is dus (net ’n hobbel in die pad) en ons werk daaraan om dit reg te maak. Ons word dus nie geïgnoreer nie – ons kan nie geïgnoreer word nie omdat ons so ’n belangrike speler vir die VSA is, net soos wat hulle ’n belangrike speler vir Suid-Afrika is vanuit ’n politieke oogpunt, ’n handelsoogpunt en ’n hele aantal ander belangrike oogpunte.
Rasool se uitsetting, wat deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, verklaar is, het vereis dat hy die Verenigde State teen Vrydag verlaat, en Suid-Afrika werk daaraan om sy vinnige terugkeer te vergemaklik.
Hoewel die uitsetting betreurenswaardig was, het Ramaphosa opgemerk dat dit waardevolle lesse bied, en bygevoeg: “Daar is lesse om uit die ervaring te leer en ons sal oor daardie lesse besin.”
Suid-Afrika se betrekkinge met die VSA is verder gespanne ná president Donald Trump se uitvoerende bevel teen Suid-Afrika, wat vlugtelingstatus aan Afrikaners gebied het. Trump se bewerings, wat talle politici meen op disinformasie gegrond was, het gelui dat Suid-Afrika grond konfiskeer en “baie erger” dinge doen.
Dit, saam met die onttrekking van USAid, het tot die verhoogde spanning bygedra.
Ramaphosa bly egter vasbelote: “Geen mate van probleme gaan die president en sy administrasie daarvan weerhou om voort te gaan om in die beste belang van die land op te tree nie.”
“Ons sal op ’n formele manier met die VSA skakel. Ons sal dit doen met diep respek vir hulle en vir president Trump ook. Ons sal met die VSA handel as ’n belangrike globale speler, aangesien ons ook ’n belangrike speler is.
“Ons betrekkinge met die Verenigde State gaan stabiliseer. So ek wil graag hê dat die mense van Suid-Afrika nie slapelose nagte moet hê nie.
“Slaap rustig in die wete dat ons daaraan werk om te verseker dat hierdie verhouding vorentoe op ’n goeie voet geplaas word.
“Ons dryf handel met mekaar, ons speel saam in verskeie sportsoorte en ons het politieke interaksie op verskeie forums; daarom moet ons sonder enige twyfel met mekaar klaarkom.”
Ten spyte van die uitdagings erken Suid-Afrika die VSA as ’n belangrike handelsvennoot. Meer as 600 Amerikaanse maatskappye is in die land werksaam.
Die president hou vol dat die historiese, dinamiese verhouding tussen die twee nasies sal voortduur en dat Suid-Afrika daartoe verbind is om dit te herbou en te versterk.
OFM Nuus mvh